Gedagte vir die dag | Donderdag 21 Julie 2022

Kolosensse 1:16

God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.

Vandag word ons dieper in die misterie van Christus in die skepping ingenooi. Gister het ons gesien dat Christus deel word van die skepping om God sigbaar te maak. Vandag sien ons dat Christus ook die oorsprong van die skepping is. Die skepping waarvan die Seun deel word, is vir Hom en deur Hom geskep. Die hele skepping vind haar rede en doel vir bestaan in Christus – selfs die dinge wat nie lekker vir ons sin maak nie, selfs die dinge wat ons nie kan sien nie, of die dinge waarvan ons nie eers bewus is nie. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Die hele skepping wys na Christus.

Hoe laat dit jou voel as jy dink dat alles hier op aarde en alles in die heelal deur Christus en vir Christus geskep is?

As jy bewus word van die wonders van die wêreld rondom jou, wat dink jy beteken dit om vir Christus geskep geskep te wees?

Hoe laat dit jou voel wanneer jy dink dat wat waar is vir die res van die skepping, ook waar is vir jou? Dat jy ook vir Christus geskep is?

Vandag se teks nooi ons uit om bewus te word van die groter verhaal van skepping waarvan ons deel is. Mag elkeen van ons bewus wees daarvan dat die hele skepping na Christus wys en mag ek en jy ook deel wees daarvan om die naam van Christus te verheerlik in die manier wat ons hier op aarde leef.

Gebed

Here, ons kan so maklik dink dat die heelal om ons draai, maar ons is eintlik net klein stofdeeltjies en deel van ’n groter verhaal wat alles na Christus wys. Help ons om so te lewe dat ons ook saam met die res van die skepping kan getuig dat ons deur Christus en vir Christus bestaan.