
Deur: Ds. Marius Breytenbach
As daar twee tekste is wat ons almal goed ken, is dit Johannes 3:16, wat sê dat God die wêreld liefgehad het en 1 Korinthiërs 13, wat ons vertel hoe liefde in ons godsdiens teenwoordig moet wees. Wat beide tekste gemeen het, is dat dit ons deur ons geloof wil rig om ’n praktiese verskil te maak. Om aan hierdie geloof uitdrukking te gee, het die vroegste gemeentes wat oor die hedendaagse Israel, Turkye en Europa verspreid was, ’n paar gemeenskaplike beginsels bepaal wat sou help om te midde van wesenlike verskille, hulle tot dieselfde Here te verbind. Een van die oudste dokumente wat hieraan uitdrukking gegee het, was die Geloofsbelydenis van Nicéa wat in die jaar 325 n.C. opgestel is en baie ooreenstem met die Apostoliese Geloofsbelydenis wat ons gereeld hardop in die kerk bely. Die woord “ortodoks” dui op ons gemeenskaplike geloof wat in hierdie en ander vroeë Christelike dokumente verwoord word – die inhoud daarvan het ons al in die Sondagskool geleer.
Die groot vraag nou is of die getuienis van hierdie “ortodoksie” wat oor eeue heen in die kerk oorgedra is, vandag in “ortopraksie” – wat relevant en van toepassing is vir die tyd waarin ons nou leef – gestalte vind. Al sou ek die tale van engele kon spreek, en die gawes besit om te kan profeteer en deur geloof berge kon versit, en al het ek al die kennis . . . sonder liefde is ek niks (1 Korinthiërs 13).
Kom ons benader dit van ’n ander kant af. Die liefde waaroor Paulus met ons praat, is baie meer as net die emosie wat ons teenoor ander ervaar. Dié liefde is die impuls wat ons ontvang om op ’n sekere manier te praat en op te tree sodat ons elke dag met ’n verskil kan leef. Hoe lyk hierdie verskil wat deur elkeen van ons gestalte vind – in ons gemeente, die gemeenskap en ons land? In dié tyd van die kerkjaar wat as Koninkrykstyd bekendstaan, gaan dit ons fokus in Stellenberg se dienste en bedrywighede wees. Kom ons reis die volgende paar maande saam, gefokus om konkreet gestalte te gee aan hoe God vandag die wêreld wil seën.