’n #Werkbesoek en ’n dak wat lek

Foto:  Op die foto van links is Desmond Kotze, Dean Simonhoff, ’n goeie vriend van Jacques en Johan Visser.  Foto regs: Die huis se dak.

 

“Desmond en sy vrou, Magdél, is nuwe lidmate in die gemeente,” vertel ds. Johan Visser.  “Desmond het aan die begin van die jaar by die mannegebedsgroep op Donderdagoggende ingeskakel.  Ons het een oggend tydens ’n gebedsbyeenkoms gesels oor Jacques Holtzhauzen, een van die gemeente se terreinwerkers, wie se huis in Delft ernstige waterdigtingsprobleme gehad het.

“Desmond, ’n boukontrakteur en eienaar van die besigheid genaamd Happy Homes and Lifestyle, doen enige opgradering of herstelwerk waaraan ’n mens kan dink, aan huise.  Hy het toe aangebied om Jacques se huis onder hande te neem.  Ek het hom en sy werkers by Jacques se huis in Delft ontmoet, waar hy toe besig was om die lekkende dak onder hande te neem.  Jacques se huis het ook ’n verdere probleem gehad met water wat tussen die bakstene van die buitemure die huis insypel en Desmond het sommer dié probleem ook getakel.  Daar is steeds ernstige dreineringsprobleme op die erf en Desmond het aanbeveel dat ’n put moontlik gegrawe moet word om die probleem op te los.

“Kontak my, of enige een van ons ander leraars vir ’n #werkbesoek, nooi Johan Visser.  “Op die manier kan ons mekaar beter leer ken en dit bied aan ons as leraars die geleentheid om jou en  jou personeel, asook jou besigheid aan die Here op te dra.  Hoekom? Want jy en jou familie is vir ons as gemeente belangrik. Kom ons versorg en ondersteun mekaar!”