Spreuke 16 handel oor die wysheid van goeie gedrag. In vers 20 staan die volgende: “Wie hom toespits op ’n saak sal sukses behaal, wie op die Here vertrou is gelukkig”. Die gedeelte praat vandag met ons oor twee baie belangrike sake in die lewe wat in balans met mekaar moet staan. Eerstens, om met ’n gefokusde aandag geleenthede, uitdagings en probleme te hanteer en tweedens om vir die uitkoms daarvan op die Here te vertrou. Ons kan so maklik in die lewe net by een van die twee vashaak. Aan die een kant die oordrewe spanning om in eie krag iets gedoen te kry en weer aan die ander kant om passief te wag en hoop dat die Here dinge sal kom verander.
Hoe lyk hierdie balans tans in jou lewe? Wat is dit waarop die Here vandag jou aandag wil fokus? Hoe help die Here jou om vandag wesenlike sake van minder belangrike sake te onderskei? Beleef hoe die Here vandag vir jou nuwe perspektiewe gee en waarop Hy jou aandag wil laat fokus, maar besef ook dat alles nie net afhang van jou eie krag en pogings nie. Vertrou dat die Here ook op ’n veel groter wyse besig is met die saak waarop jy fokus. Moet dus nie dat irritasie en moedeloosheid in jou oorneem wanneer dinge nie uitgewerk het soos wat jy gehoop het, of self geglo het nie. Mag hierdie stukkie wysheid vandag die lewe wat voor jou afspeel kom oopbreek.
Gebed
Here, ek kom gee vandag die gedagtes en gevoelens wat oor die lewe in my maal in u hande oor. Ek wil nie toelaat dat frustrasies en moedeloosheid my weerhou om vandag iets te kan doen wat ’n groot verskil kan maak nie. Maar ek wil ook nie toelaat dat my aksies in die pad staan van iets veel groter waarmee U tans besig is nie. Ek bid daarom vir wysheid. Die wysheid om my gawes en vaardighede nuttig te kan gebruik. Wys my daarom vandag wat ek kan doen. Maar gee my ook insig in my eie beperkinge en die vrede om U te vertrou vir die uitkomste wat moet realiseer.
AMEN