Omgee in ’n tyd soos nou

WEEK VAN BARMHARTIGHEID 14 TOT 18 AUGUSTUS 2022

Deur: Ds. René Potgieter

God het ’n brandende hart vir mense. Jesus het Hom telkens oor die armes ontferm toe Hy hier op aarde was. Omgee vir, of diens aan ander mense is die vervulling van die tweede liefdesgebod – om jou naaste lief te hê soos jouself. Jesus se hele bediening was ’n bediening van omgee. Hy het die behoeftiges en noodlydendes gehelp. Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan is die meesterverhaal wat vir ons wys hoe belangrik omgee is. Omgee is immers in wese ’n prentjie van wie God as die barmhartige God is. Wanneer ons vir ander omgee, doen ons die wil van die Vader. Jesus verwag ook van ons om vir ander mense om te gee. Hy het gesê: “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is” (Luk. 6:36).

Omgee verg van ons om sagte oë en ’n warm hart vir ons naaste te hê, en dan met hande en voete uitvoering aan ons gevoel van barmhartigheid te gee: Wie aardse besittings het en sy broer [of suster] sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom [of haar] het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?  Omgee is ’n lewe van diensbaarheid – ’n lewe waarin ander mense se belange by jou net so swaar weeg soos jou eie, ’n lewe waarin ’n mens jou hulpbronne, tyd, invloed en vaardighede gebruik ten bate van jou medemens, of dit nou is om hulle te beskerm, te versorg, te koester, of vir hulle regte op te kom.

Nood het verskillende gesigte. Nood neem die gestalte aan van geestesgesondheid, siekesorg, rampgebeure, behuisingsnood, haweloosheid, verslawing en talle ander aan. Wat is die kerk se rol in al hierdie seer van die wêreld? Dit is juis die vraag wat ons wil oordink tydens die week van barmhartigheid.

’n Propvol program word aangebied en daar is baie om na uit te sien.

Die week skop af op Sondag 14 Augustus met ds. Nioma Venter wat die erediens, wat juis handel oor die tema van barmhartigheid, sal lei.

Vanaf 14-18 Augustus 2022 sal daar in die grootsaal van Stellenberg-gemeente verskillende uitstallers, wat ’n beduidende verskil in die gemeenskap maak, wees. Die doel van die uistalling is juis om ons bewus te maak van hoe en deur wie nood op verskillende vlakke verlig word. Van die uitstallers is MES, KANSA, CABSA, Arbeidsbedieninge, Straatwerk en Ramot. Lidmate word uitgenooi om die uitstalling by te woon. Dit is gratis.

Vanaf 16-18 Augustus 2022 sal werkswinkels oor barmhartigheid en diensbaarheid aangebied word.

Die tydsindeling vir elke dag se aanbieding is soos volg:

  • 9:00 tot 11:30: Bespreking oor die onderwerp vind rondom tafels plaas. Dit sal vanuit verskillende hoeke soos die Ou Testament, Nuwe Testament en praktiese teologie, bekyk word.
  • 14:00 tot 15:30: Verskillende sprekers sal die onderwerp bespreek en hulle standpunt met ons deel.

Om die drie dae se werkswinkels by te woon beloop R300 per persoon. Dit sluit alle materiaal en etes in. Kontak asb. vir ds. René Potgieter by rene@stellenberg.co.za as jy sou belangstel om dit by te woon.