

Vanaf 1 Augustus 2022 is ds. René Potgieter vir die gemeente se getuienisbediening verantwoordelik. Sy neem dié leisels by ds. Why Duvenhage, wat einde Julie aftree, oor. Onder die getuienisbediening ressorteer al die gemeente se uitreikprojekte wat daarop gemik is om minderbevoorregte gemeenskappe en individue te ondersteun. Dis is dan hier waar die spreekwoordelike tekkie die teer slaan en ons ons gemeente se visie om uit te reik oor alle grense heen, prakties uitleef.
Ds. René Potgieter was die afgelope Junievakansie deel van die uitreikspan na Beaufort-Wes. Stellenberger het met haar gesels oor haar ervaringe rakende die spesifieke uitreik, asook oor die ander uitreike wat plaasgevind het.
Dis was die eerste uitreik in twee jaar na Beaufort-Wes en ook na ons ander bekende uitreikdorpe soos Calitzdorp en Leeu-Gamka. Wat was jou algemene indruk van die dorp en die gemeenskap? Hoe het dinge in die twee jaar verander? Die armoede het beslis toegeneem. Daar is min werksgeleenthede in die dorp met die gevolg dat baie gesinne finansieel swaarkry. Dit wil vir my ook voorkom of die toestand van die dorp agteruitgegaan het. Die dorp is vuil en die paaie vol gate. Dis jammer dat so ’n mooi dorp so moet verval.
Hoe het die Covid-19-pandemie al hierdie plattelandse dorpe geraak? Sukkel hulle steeds om die gevolge van die pandemie te oorkom? Die Covid-19-pandemie het beslis ’n impak op al die gemeenskappe gehad. Baie mense in die gemeenskappe het tydens die inperkings nie ’n inkomste verdien nie en het dus net verder in armoede weggesak. Nuwe geleenthede word nie geskep nie, wat tot gevolg het dat die jongmense nie werk kry nie. Dis ook hartseer om te sien hoe die moraal van die gemeenskappe agteruitgegaan het. Mense is moedeloos en negatief.
Dink jy die afwesigheid van die uitreikspanne was vir hulle ’n gemis? Beslis. Al maak ons net die lewe vir hulle lekker vir ’n paar dae, maak dit tog in hulle lewens ’n verskil. Ons kom deel ’n warm mus en serp uit en plant ’n saadjie van hoop – iets wat hulle nie gehad het nie. Gedurende die vakansie kry die kinders nie kos by die skole nie; dus is baie van hulle honger. Daarom deel die uitreikspanne ook ’n bietjie pap en sop uit wat darem daardie honger magies vir ’n rukkie vol maak.
Het die armoede op dié dorpe toegeneem? Is dit sigbaar en waar is dit die sigbaarste? Die armoede is duidelik sigbaar. Dis vir my baie hartseer om te sê, maar die kinders leer om met hongerte saam te leef. Daar is eenvoudig net nie geld om kos te koop nie. Die hele Beaufort-Wes vertel ’n storie van swaarkry en armoede en dit is so jammer dat dit die tendens in die meeste van ons plattelandse dorpe is.
Wat is na jou mening die grootste maatskaplike probleme wat dié dorpe raak? Armoede wat op verskillende plekke sigbaar is. Kinders is verwaarloos, jong tieners raak swanger en word onbekwame ouers, asook alkohol- en dwelmmisbruik. Bendes begin ook kop uitsteek. Dit is net so ’n hartseer situasie van verval.
Hoe lyk die samestelling van die minderbevoorregte gemeenskappe? Is daar baie bejaardes of meer jongmense en kinders? Ons het baie gefokus op die kinders. In ’n stadium het ek so staan en kyk oor ’n skare van 600 kinders en by myself gedink: Wat gaan eendag van al hierdie kindertjies word? Waar gaan hulle almal ’n heenkome vind? En dit was net in een gebied van die dorp. Daar is baie kinders – dit was vir my opvallend.
Aan watter ouderdomsegment in die gemeenskappe spandeer die uitreikspanne die meeste van hulle tyd? Ons fokus veral op die kinders en die jongmense.
Hoe lyk jou dag op ’n uitreik (van die oggend tot die aand)? Soggens vanaf 10:00 tot 12:00 bied ons ’n program vir die kinders tussen die ouderdomme van drie tot 13 jaar aan. Ons bied ’n kort geestelike boodskap aan en deel dan ook pap of sop uit. Vanaf 14:00 tot 16:00 bied ons ’n leierskapkursus vir die jongmense aan. Die doel hiervan is om hulle toe te rus om leiers in die gemeenskap te wees. Ons beplan ’n opvolgsessie met hierdie leiers in September. Vanaf 16:00 tot 18:00 word ’n geestelike program vir al die jongmense aangebied en ons gee gewoonlik ook dan vir hulle iets te ete.
Is dit veilig in die dorpe? Ja, dis veilig. Ons probeer ook om nie in die aand programme aan te bied nie, sodat kinders voor donker weer by hulle huise kan wees.
Is daar sterk leiers in die plattelandse gemeenskappe? Daar is sterk politieke leiers, maar daar is nie soseer sterk gemeenskapsleiers wat ’n verskil in die gemeenskappe maak nie.
Watter impak het die uitreikspanne in dié gemeenskappe? Kan hulle in die kort tydjie wat hulle daar is werklik waarde toevoeg tot die mense se lewens? Dis die groot vraag wat ons telekemale vir mekaar vra. Wat is die doel van so ’n uitreik? Ons wil juis nie net vir ’n week ’n besoek, waartydens ons die kinders vermaak en dan weer onttrek, aflê nie. Ons moet juis besin oor wat ’n langer impak sal hê. Een so ’n poging is ’n sopkombuis wat ons saam met ’n plaaslike gemeente in die lewe wil roep. Die sopkombuis sal aanvanklik een keer per week sop aan honger mense voorsien. Die sop sal met ’n opleidingsessie gepaardgaan en om sop te ontvang, sal gemeenskapslede eers die opleiding moet bywoon. Die opleiding sal ’n geestelike- of toerustingsinslag hê. Op dié manier glo ons sal ons ’n meer standhoudende invloed op die gemeenskap hê.
Hoe word die uitreikspanne deur plaaslike gemeenskapsleiers ontvang? Baie goed. Hulle is altyd dankbaar wanneer ons daar aankom.
Is daar aspekte van die uitreike wat jy graag in die toekoms sou wou verander? Ek wens dit sou moontlik wees om twee keer per jaar ’n uitreik te onderneem.
Hoe kan lidmate wat hier in ons stadsgemeenskap woon, betrokke raak en ’n verskil maak in die lewens van mense op dié dorpe? Ons breigroep brei musse en serpe vir die kinders, waarvoor ons baie dankbaar is. Kinderklere is ook altyd welkom. So baie kinders sit daar in verslete en stukkende klere terwyl dit ysig koud is. Dan is finansiële bydraes ook welkom, veral as ons nou met die sopkombuis gaan begin.
Die afgelope vakansie se uitreike het opnuut bevestig dat ons betrokkenheid in dié plattelandse gemeenskappe baie nodig is. Ons moet daar wees sodat ons ’n verskil kan maak.