Sharon en Chantelle – twee aartsengele

Sharon Pienaar en Chantelle Botha is ’n ma-en-dogter-span wat die afgelope nege jaar saam-saam ’n privaat ouetehuis vir selfversorgende bejaardes in Bellville bedryf.  Chantelle vertel dat haar pa die groot dryfveer agter die besigheid wat hulle in 2000 begin het, was.

“My ma is in haar laat dertigs met kanker gediagnoseer.  In daardie stadium het sy voltyds by Stad Kaapstad gewerk en my pa het gevoel sy moet iets anders begin doen sodat ons as ’n gesin meer tyd saam kon deurbring. Haar diagnose en gepaardgaande familiegeskiedenis het hom opnuut tot die besef gebring dat ons tyd saam baie kosbaar is.

“In sy soektog na ’n ander werksgeleentheid vir my ma het hy toe op ’n huis in Ou Paarlweg in Bellville afgekom en die gedagte van ’n losieshuis of ouetehuis vir bejaardes, het by hom posgevat.  My ma was maar aanvanklik baie skepties oor die besigheid.  Sy was nie seker of sy met bejaardes sou kon werk nie en sê sy het toe baie soos Jona gevoel wat die opdrag ontvang het om Nineve toe te gaan, maar nie gereed gevoel het daarvoor nie.

“My pa het egter deurgedruk met sy droom van ’n familiebesigheid en die eiendom gekoop en so het Die Herberg, soos die besigheid bekend staan, met 37 kamers sy ontstaan gehad.  Die Herberg bied teen R6 300 per maand aan alle inwoners verblyf, drie etes per dag, asook ’n kamerskoonmaak- en wasgoeddiens.”

Chantelle vertel dat haar pa ook 11 jaar gelede uit die bloute met kanker gediagnoseer is.  In daardie stadium het Chantelle ’n goeie werk by ’n in- en uitvoermaatskappy gehad.  Haar pa moes skielik gehospitaliseer word en terselfdertyd is haar ma toe ook in die hospitaal opgeneem vir ’n tweede mastektomie.

“Toe moet iemand inspring!” sê Chantelle.  “Die Herberg moes bestuur word.    Ek was toe maar 21 jaar oud en  my boetie was nog op skool en ek was dus die enigste een wat my ouers kon help.  Ek het uiteindelik my werk bedank en is sedertdien voltyds by Die Herberg.”

Op die vraag wat die twee vroue motiveer om met die besigheid vol te hou, is hulle antwoord kort en kragtig.  Hulle het ’n passie om mense te help.

“Hier het vier maande gelede ’n vrou by ons beland,” vertel Sharon.  Sy en haar man het eers permanent in Hardekraaltjie-karavaanpark gewoon.  Haar man is later oorlede en sy kon nie meer alleen in die vervalle woonwaentjie aanbly nie.  Sedert sy hier by ons woon, het sy fisies soveel sterker geword en lyk sy in die kort tydjie soveel beter.   Dit is vir sulke mense wat ons voortgaan met Die Herberg, ten spyte van al die frustrasies met warmwatersilinders wat breek en inwoners wat soms veeleisend raak.  In sulke tye praat my seun en Chantelle se man ons weer moed in om net  vol te hou met die werk. Ons inwoners is meestal maar van staatstoelaes afhanklik en hulle kinders moet hulle help om die maandelikse tarief te betaal, maar Die Herberg is vir hulle ’n tuiste waar hulle veilig is en versorg word.”

Sharon en Chantelle beaam beide dat hulle sewe uitstekende personeellede in diens het.  Die vroue is almal Christene en tree baie sorgsaam teenoor die inwoners op.  Hulle doen moeite met die maaltye wat hulle voorberei en ken al die inwoners se voor- en afkeure.  Hulle was ook al sewe bereid om tydens die Covid-19-pandemie voltyds in te woon en het hulle eie gesinne afgeskeep ter wille van die versorging van ons mense.  Ons het danksy hulle opoffering nie een positiewe Covid-19-geval in Die Herberg gehad nie.

Sharon, Chantelle en haar man, Ruan, asook die kinders, Liam en Misha, is almal lidmate van Stellenberg-gemeente.  Chantelle sê hulle voel tuis in die gemeente en dit is selfs vir die kinders lekker om Sondae saam met hulle ouers kerk toe te kom.

Beide Sharon en Chantelle se geloof in God het hulle die afgelope 22 jaar deur baie moeilike tye gedra.  Vandat Sharon in 2000 die eerste keer met kanker gediagnoseer is en hulle boonop hul pa en man nege jaar gelede aan die dood moes afstaan, is God hulle anker.  “Ons gesin het regtig moeilike tye saam beleef, maar dit het tot gevolg gehad dat ons net nader aan mekaar gekom het,” sê Chantelle.

Hierdie gesin wat hulle eie lewens deurentyd met hoop en geloof lei, skep ten spyte van hulle eie hartseer en verlies ’n baken van hoop vir ander.