Diep spore in 39 jaar getrap – ds. Why Duvenhage groet

Na ’n loopbaan van 14 jaar as voltydse leraar van Stellenberg-gemeente, tree ds. Why Duvenhage op 31 Julie af.  Stellenberger het so tussen die uitreike in Leeu-Gamka en Calitzdorp deur met hom gesels oor dit wat hy alles oor die afgelope 39 jaar heen in die bediening beleef het.

Jy is sedert 2008 jaar ’n voltydse leraar van Stellenberg-gemeente en voorheen was jy ’n kapelaan in die Suid-Afrikaanse Polisiediens.  Hoekom het jy die Polisiediens vir ’n bediening by ’n voorstedelike gemeente verruil?

Ek het reeds in 2000, via een van die gemeente se lidmate, by Stellenberg-gemeente aangesluit en aanvanklik was ek net as kapelaan aan die gemeente gekoppel.  In daardie stadium is kapelaansposte in die polisiediens geherstruktureer wat tot gevolg sou hê dat ek ander funksies in die polisiediens sou moes verrig.  En dit het dan daartoe gelei dat ek voltyds by Stellenberg-gemeente betrokke geraak het.

Hoeveel jaar was jy ’n kapelaan en wat sal jou altyd van dié bediening bybly?

Ek was 15 jaar in die polisiediens.  Dit sluit twee jaar opleiding as polisiebeampte in.  Die adrenaliengevulde aard van die werk en kapelaansdiens in die polisiediens sal my altyd bybly.  Aanvanklik was my werk baie toegespits op die bediening van grensposte en om besoeke aan  polisiestasies te bring.  Later jare het ek meer op ’n nasionale vlak na die geestelike begeleiding van beamptes omgesien deur middel van die aanbieding van konferensies en retraites.  Een van die hoogtepunte van my bediening was die stigting van die Christelike Polisievereniging saam met my goeie vriend, Quintes Smit.  Na my aftrede sal ek steeds graag by die vereniging betrokke wil bly.

Het jy ooit ’n ander loopbaan as die van predikant oorweeg, en wat het die deurslag gebied dat jy vir teologiese studie ingeskryf het?

Tydens my hoërskooljare was ek  baie gemotiveerd om medies te gaan studeer.  Eers laat in my graad 11-jaar het ek meer en meer oortuig daarvan geraak dat ek teologie moes gaan studeer.  Ek het in daardie tyd van my lewe ’n diep geestelike ervaring gehad waar ek ’n bewuste roeping ontvang het om mense in nood te begelei en veral jongmense te bedien.

Uitreike en die mense van ons land in die Karoo, Mavusa, Iziyamu Yethu en so kan ’n mens opnoem, lê jou baie na aan die hart.  Hoekom het uitreik na minderbevoorregte gemeenskappe oor die jare heen so ’n passie by jou gebly?  Het jy ’n idee hoeveel kilometer jy tydens jou bedieningsjare na al die uitreikdorpe afgelê het?

Deur die oë van die polisiediens sien ’n mens baie verskillende en gebroke situasies in ons land.  Ek het op dié manier by plekke soos Mavusa betrokke geraak.  Ek besef my bydrae is soos die spreekwoordelike druppel in die emmer, maar ek wou sover moontlik mense mobiliseer om op hierdie plekke  uit te kom sodat hulle self kon sien en beleef wat in ons land gebeur.  Dit het wel vrugte afgewerp deurdat vele harte tydens uitreike vir dié haglike omstandighede gebreek het en uitreikers met deernis vir dié dorpe en hulle inwoners gevul het.

Uitreike het vir my ’n passie geword omdat ek gesien het die formele strukture van die staat en selfs die kerk, het op grondvlak nie werklik ’n verskil in mense se lewens gemaak nie.  Mense het ’n behoefte aan persoonlike kontak en dit is die seën wat uitreike na mense neem.  Hulle ontvang nie net ’n kospakkie nie.  Nee, daar is meer – daar is persoonlike kontak, iemand wat vir daardie persoon in nood bid en omgee.  Dít vuur my passie aan.

Oor die hoeveelheid kilometers wat ek gery het . . . dis eintlik ’n onmoontlike som.  Ek het geen idee hoeveel derduisende kilometers ek die afgelope jare na uitreikplekke afgelê het nie. Al wat ek weet is, dit moes baie gewees het.

Hoe het jy die swaarkry van mense – wat jy tydens uitreikbesoeke moes waarneem – verwerk?

Dit was by tye vir my baie traumaties.  Dikwels moet ’n mens maar wegkyk en wegstap, ander kere is jy geforseer om direk betrokke te raak.  Dis goed om na die tyd met iemand daaroor te gesels, amper soos hulle in die polisie sê, om te “debrief”.  Ander kere het ek ’n lang ent in die veld gaan stap en met die Here daaroor gepraat.

Watter nood, of situasie het besonder erg aan jou hart geruk?

Die nood van verwaarlosing en mishandeling van kinders.  Dit is eenvoudig vir my verskriklik om te aanskou.  Dit is ongelukkig ’n werklikheid dat daar in arm gemeenskappe met ’n hoë voorkoms van maatskaplike probleme, ook ’n hoë voorkoms van geweld is  –  dit breek my hart.

Met die ondervinding wat jy op voetsoolvlak onder die die armste gemeenskappe van ons land opgedoen het – wat glo jy is nodig om verandering in dié gemeenskappe tot stand te bring?  Hoe kan die kringloop van armoede gebreek word?

Ek dink wat nodig is, is selfonderhouding.  Ek besef ek is self skuldig daaraan en dat ons dikwels sop, klere, ens. uitdeel en ek besef dit moet gebeur, maar dit mag egter nooit net by uitdeel bly nie. Daar moet saam met die uitdeel ’n begeleidingsproses wees waar mense geleer word om die vis self te vang.  Ek is opgewonde oor ’n entrepreneurswerkswinkel wat ons die afgelope weke vir leiers aangebied het.  Daar was 25 jongmense en ons kon hulle denke stimuleer en aan hulle verduidelik hoe ’n entrepreneur moet dink en waar hulle geleenthede kan raaksien.

As gevolg van die politieke situasie in ons land het ’n groot deel van ons bevolking ongelukkig van toelaes afhanklik geraak.  Dit het voordele, maar ook nadele.  Die afhanklikheid is toksies en selfbemagtiging is van kardinale belang.

Wat is jou gunstelingplek in Suid-Afrika en ook in die wêreld en hoekom?

Dit is ’n baie moeilike vraag.  Die eerste plek wat by my opkom, is die Apostelbattery-kampterrein in Llandudno waar ek al 29 jaar betrokke is by leierskapsontwikkelingsprogramme.  Mavuso in sy eenvoud is beslis ook ’n gunsteling.  Wyer – Humelake Christian Camps, Kalifornië, waar ek al oor jare heen betrokke geraak het en waarheen ek twee keer tienergroepe van Stellenberg, asook uit die res van Suid-Afrika, geneem het.

Jy is passievol oor die opleiding van leiers en dié benadering maak baie sin.  Wat is jou droom vir leiers in Suid-Afrikaanse gemeenskappe?

Die wêreld het ’n ongelooflike groot behoefte aan leiers.  Dan verwys ek nie na gekose leiers nie, maar alle mense wat inisiatief neem en passievol ’n verandering in hulle onmiddellike omgewing teweeg bring.  In Suid-Afrika is ’n nuwe stel leiers nodig en hulle moet nie net bestuurders wees nie.  Dit moet leiers wees wie se harte breek vir dit wat hulle sien en dan opstaan en iets kreatiefs daaromtrent doen.  Leierskapsontwikkeling by ons eie jongmense en tieners is so belangrik.

Jy bied gereeld leierskapskonferensies vir mense in ander lande aan.  Hoe verskil die uitdagings van leiers in ander lande teenoor die van Suid-Afrika?

Deur die Pointment Leadership Institute het ek al leierskapsprogramme in Egipte, Nigerië, Tiberië, Kenia, Zambië, Zimbabwe, Amerika, Skotland en Roemenië aangebied.  Elke land is verskillend en leierskapstyle moet volgens elke land se behoeftes aangepas word.  Ek dink die groot verskil tussen Suid-Afrika en ander lande is dat daar ’n baie sterk werksetiek in ander lande teenwoordig is.  In Suid-Afrika sukkel ons daarmee omdat ons leierskap as iets beskou wat aan ’n pos of posisie gekoppel is.  In ander lande is dit vir my opmerklik dat mense baie makliker inisiatief neem om self ’n verskil te maak.

 Wie is jou mentor, of ’n rolmodel en watter waarde het die persoon tot jou lewe toegevoeg?

My pa was deur al die jare heen my grootste mentor en rolmodel.  Ek het hom ongelukkig op ’n vroeë ouderdom aan die dood afgestaan, maar hy was ongetwyfeld die persoon wat my die meeste beïnvloed het en voorberei het op dit wat vir my in die lewe wag.  Sy integriteit, passie vir die lewe en hardwerkendheid, was van die grootste lesse wat ek by hom geleer het.

Jy is die trotse pa van vier seuns.  Het jy ooit gedink twee van jou seuns sal ook voltyds in die bediening werksaam wees?

Ek is ’n baie dankbare en trotse pa van vier seuns.  Die vier manne, asook my vrou, Zandra, is waarskynlik die grootste geskenke wat ek uit die Here se hand ontvang het.  Ek het aanvanklik nooit gedink enige een van hulle sal in die bediening betrokke raak nie, aangesien sport altyd ’n ontsettende groot rol in hul lewens gespeel het.  Dit was wonderlik om te sien hoe twee van hulle toe wel uit persoonlike oortuiging tot die bediening toegetree het.  Die areas van hulle bediening verskil egter baie.  Gerhard is grootliks betrokke by die opleiding van jeugleiers in Afrika en Anton is voltyds jeugleraar in ’n NG kerk.  Ons jaarlikse pa-en-seun-jagtogte is altyd die hoogtepunt op my kalender.

Kinders grootmaak was en is geensins maklik nie.  Watter raad het jy aan jong pa’s om ’n goeie verhouding met hulle kinders te vestig?

Ek stem saam, om kinders groot te maak is regtig moeilik.  My raad is: Werk baie hard aan jou verhouding met jou kinders.  Gee baie aandag daaraan, selfs in tye wanneer dit moeilik is.  Moet nooit voorgee, of vals wees nie.  Klim in hulle leefwêrelde in en kyk na die wêreld deur hulle oë.  Wees ’n leier vir jou kinders – dis ’n voorreg.

Om die trotse oupa te wees van vier kleindogters is ’n groot voorreg.  Wat is vir jou die lekkerste omtrent oupa-wees? 

Dis wanneer hulle jou “Oupa” noem en jy die geleentheid kry om oupa-dinge te doen soos om te terg, net om te gee en te bederf, maar wanneer hulle stout raak aan hulle ouers te kan teruggee.

Jy en Zandra gaan steeds in julle huis in die gemeente woon.  By watter gemeenteaktiwiteite sal jy graag betrokke wil bly? 

Ja, ons gaan steeds in ons huis in die gemeente woon.  Ek dink nooit ver vooruit nie, maar indien ek by aktiwiteite soos uitreike betrokke kan bly, sal ek dit met groot vreugde doen.

 Gaan jy nog steeds in jou persoonlike hoedanigheid by van jou bedienings betrokke bly?  Indien wel, by watter en hoe gaan jou betrokkenheid daarna uitsien?

Na my aftrede sal ek graag by die projek in Mavusa betrokke bly.  Ons het dit van die grond af opgebou en tans funksioneer dit goed.  Ek sal ook mettertyd evalueer watter rol ek in die Transkei kan speel en verder sal ek as direkteur by Apostelbattery-kampterrein, betrokke bly by die kampe vir minderbevoorregte kinders, leierskapsontwikkeling en die karakterboukampe wat by Apostel aangebied word.

 Zandra is ’n onderwyser in Afrikaans by Hoërskool Stellenberg.  Beplan sy om ook binnekort die tuig neer te lê?  Het julle dan planne om ’n emmerskoplysie kaf te draf? 

Zandra geniet haar werk by Hoërskool Stellenberg baie.  Sy is ook betrokke by die skool se debatspanne en beplan om indien alles goed verloop, eers teen einde 2023 die tuig neer te lê.  Die emmerskoplysie – ek sou baie graag meer intensief deur ons land wou toer.  Ek glo wanneer Zandra nie meer voltyds werk nie, ons sulke toere en selfs dalk buite ons landsgrense, saam sal aanpak.

 Wanneer ’n mens terugkyk oor soveel jaar in ’n beroep – waaraan dink jy met heimwee terug?

Ek kyk met ontsettende groot dankbaarheid terug oor my jare in die bediening.  Ek is veral dankbaar dat ek tot op die ouderdom van 65 voltyds in die bediening kon bly.  Ek voel dat ek goed gebruik is, ten spyte van my eie broosheid en swakheid.  Ek dink met baie heimwee terug aan duisende kampe en die voorreg wat ek gehad het om jongmense te begelei en weer ’n sprankel van hoop in hulle oë te sien.