Rut 3:18 18Naomi sê toe: “Wag maar en kyk wat nou gaan gebeur, my dogter. Die man sal beslis nie vandag rus voordat die saak afgehandel is nie.
Watter plesier is dié pragtige kortverhaal Rut nie. ‘n Mens kan dit eenvoudig lees – as ‘n liefdesverhaal – óf jy kan dit dieper lees – as ‘n verhaal oor immigrasie en grondbesit – of nog dieper as ‘n getuienis van God se getrouheid in hierdie wêreld.
- In die verhaal is daar dinge wat jou tone wil laat krul van plesier. ‘n Rut by die voete van Boas (hfst 3). ‘n Boas in die poorte wat op sy voete kan dink (hfst 4)! Sy naam beteken nie verniet “vinnig” nie. Dit is daarom ‘n uitsonderlike liefdesverhaal.
- In die verhaal is daar dinge wat jou bewus maak van die broosheid van die lewe. ‘n Naomi wat haarself Mara noem. Die naam Naomi beteken “lieflik”. Die naam Mara beteken “bitter”.
- En dan daar is dinge wat jou asem wil laat wegslaan van ontsag vir God se werk. ‘n Kind wat gebore word vir Rut en Naomi en wat van baie groter betekenis is as wat hulle in hulle wildste drome kon droom. Obed, die dienskneg. Uit wie die Groot Dienskneg gebore sou word. Soos die geslagsregister aan die einde vir ons vertel. Obed se nageslag is Dawid, en Matteus 1 vertel ons dat Jesus weer Dawid se nageslag is. God weef ons verhale in sy groter verhaal met die wêreld in.
Wat leer Rut ons? Wel, God is aan die werk, al sien ons nie sy hand glashelder raak om elke hoek en draai nie. Tussen al die doen en late deur van die hoofkarakters in die verhaal, naamlik Rut, Naomi en Boas, sien ons hoe God sy eie planne bewaarheid. Dit is Hyself wat Rut onder sy vleuels geneem het, soos wat Boas sê (2:12). En dit is God wat uiteindelik sorg dat Naomi se planne slaag en dat sy ‘n nageslag het. Tussen al die slegte dinge deur wat in mense se lewe gebeur, bly God aan die werk. Hy omskep verleenthede in geleenthede en hartseer in vreugde. Op die ou end seëvier God se wil, nie die sonde nie. Daaraan kan ons tot vandag toe vashou.
GEBED
Here dankie dat ek deur die verhaal van Rut weer kan hoor dat U in beheer is en dat U plan altyd sal seëvier.
Amen