Galasiërs 2:20. Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nog hier lewe, lewe ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.
Daar is soveel goed wat in die lewe met ’n mens gebeur wat onsinnig is en ons van ons vermoë om met hoop te leef, beroof. Lyding, seerkry en swaarkry staan hier voor in die tou en ons worstel lank met hoekom- en waarom-vrae waarop daar nie eenvoudige antwoorde is nie. Dit is nie maklik om by ’n plek van aanvaarding en vrede uit te kom nie. Dis hier waar Paulus se getuienis ons help en hy verwoord dit so akkuraat . . . “ek het saam met Christus gely en gesterwe”, maar ook in dié proses die krag van die Here se opstanding beleef. Die ervaring is soos om op die rand van ’n gevaarlike afgrond te loop en te ervaar dat vrees nie oor jou die oorhand moet kry en jou verhoed om die volgende tree te gee nie. Inteendeel, dis juis wanneer dit vir ons voel ons sterf wat die lewe in ons oorneem. Hoe resoneer Paulus se ervaring vandag met jou? Wat beteken dit dat jy saam met Christus gekruisig is, maar ook juis daarin saam met hom lewe?
Mag jy ervaar hoe die Here se opstanding vandag vir jou die moed gee om deur die lyding, seerkry en swaarkry wat jy tans beleef, te loop.