Psalm 23: Die Here is my herder
1’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. 2Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. 3Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. 4Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. 5U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.
“U laat my by ’n feesmaal aansit”, sê Dawid. “U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly . . . “. Dit was seker maar omdat Dawid ’n man na God se hart was, dat hy dit kon sê. Hy was immers die koning van Israel. Vir so iemand is die lewe seker ’n fees. Maar vir ons gewone mense is dit ’n ander storie. Ons het met die harde werklikheid van die lewe te doen. Ons het beslis nie ’n feesmaal van ’n lewe nie.
Maar – en dit is belangrik dat ons dit sal onthou – alles het nie altyd net voorspoedig vir Dawid geloop nie. Dink maar aan die jare wat hy tydens koning Saul se bewind vir sy lewe moes vlug en as ’n balling in die land van die Filistyne moes woon. Dink maar aan die hartseer toe sy en Batseba se seuntjie dood is, of die tragedie in sy huis, toe sy oudste seun Amnon sy halfsuster Tamar verkrag het.
Maar Dawid het een ding geweet: God is in beheer van sy lewe. Hy sorg vir hom, en daarom hoef hy hom nie te bekommer nie. Dawid het gesien dat die Here met hom besig is, dat niks wat met hom gebeur, toevallig is nie. Dit is die rede waarom Dawid die lewe as ’n feesmaal uit God se hand beleef het: Omdat dit vir hom heerlik was om deel te wees van God se wêreld, omdat dit vir hom heerlik was om te beleef hoe God met hom besig is.
Dit kan jy ook weet. God is in beheer van jou lewe. Hy wil jou in hierdie lewe met al sy hartseer en probleme soos ’n eregas ontvang en oorlaai met sy liefde en genade.
GEBED
Dankie Here. Ek neem my plek as eregas in by die tafel wat U vir my voorberei het.
Amen.