Gedagte vir die dag | Woensdag 8 Junie 2022

 

Psalm 23: Die Here is my herder

1’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

Psalm 23 beeld vir ons ons verhouding met God uit soos die verhouding tussen ’n herder en sy skaaptrop. Die herder met sy skape was ‘n bekende beeld in die Ou Nabye Ooste. Dawid was self ’n herder en kon dus die beeld van die herder in hierdie Psalm baie goed toepas.  Dawid het vir jare sy pa se skape opgepas en hy weet dus wat dit beteken om ‘n herder te wees. Dawid het geweet dat skape glad nie sonder hulle herder kon oorleef nie. Die skape het iemand nodig wat hulle van kos, water en skuilplek kan voorsien.

Net soos hierdie herders vir hulle skape gesorg het, was die Here vir Dawid sy Herder wat in al sy behoeftes voorsien het. Die Hebreeuse term Jaweh-Roï is een van die maniere waarop God aangespreek word en dit beteken ”Die Here is my herder” Een van die belangrikste betekenisse van die woord “herder” is om te versorg. Dit is presies wat die Here vir ons ook wil doen. Die Here versorg en bewaar ons soos wat ’n herder vir sy skape doen.

Die Here is jou Herder wat vir jou sorg, daarom hoef jy nie snags rond te rol en aan al jou bekommernisse te dink nie.  Nee, jy mag rustig wees in die wete dat jy ’n Herder het wat jou sal versorg.

GEBED

Dankie Here dat U ook my Herder is. Dankie dat U my behoeftes ken en ek weet dat U vir my sal sorg net soos Dawid vir sy skape gesorg het.

Amen.