Gedagte vir die dag | Maandag 6 Junie 2022

 

Hartlik welkom. Hierdie week gaan ons saam op reis met ’n roadtrip vol G’s. Ons kyk na ’n Bybelverhaal wat ons leer van ’n man met die naam Naäman. Hy moes padlangs leer dat moeilike situasies oplossings het. Kom ons luister padlangs saam en kyk wat gebeur…

Welkom by die avontuur. Sit jou veiligheidsgordel aan en kom geniet die reis.

Vandag sluit ons af met die laaste tema: Padlangs Genees en ons reis saam in vers 14: Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van ‘n klein seuntjie en hy was weer rein.

 Naäman moes God sonder voorwaardes gehoorsaam. Hy het homself sewe keer in die rivier gebad en is toe skoon gewas. Dit was nie die rivier wat hom genees het nie, maar God. Dit is net God wat ons kan genees en herstel. Melaatsheid is glad nie lekker nie, maar in die proses kon God die siekte as ’n geleentheid gebruik sodat Naäman vir God leer ken. In die proses kon Naäman leer wat dit beteken om padlangs gebruik te word soos met die jong diensmeisie. Hy kon leer wat dit beteken om gestuur te word en hoe om uitdagings te hanteer wat hom padlangs geskeur het. Hy het ontdek dat hierdie lewende God gehoorsaamheid van ons vra en dat net God die een is wat ware genesing kan bring. Nie net in die herstel van ons gesondheid nie, maar ook in die herstel en heelmaak van ons gees.

Gesels nou saam of dink na oor die volgende vrae. Julle kan na elke vraag die “pause” knoppie druk om tyd te gee sodat julle bietjie daaroor kan dink en daaroor kan gesels.

  • In watter area van jou lewe sukkel jy om heelheid of genesing te beleef?
  • Na watter heelheid of genesing smag jy?
  • Hoe herstel God ons?

Kom ons bid saam. 

Here, dankie dat U die groot geneesheer is. U ken ons seer en tekortkominge. Neem my lewe, laat dit Heer. Amen

Doen nou die volgende saam. Hier is drie voorstelle.

  • Die eerste voorstel is vir families: Eet vandag ’n spesiale ete saam aan tafel. Vertel vir mekaar stories van God se voorsienigheid in julle lewens.
  • Die tweede voorstel is vir tieners: Skryf vandag ’n loflied tot eer van God. ’n Lied wat Sy goedheid besing!
  • Die derde voorstel is vir kinders: Was vandag jou kamervenster skoon, sodat jy weer mooi kan sien. Terwyl jy dit doen sê jy dankie vir God dat Hy padlangs saam met jou reis.

Vrede en Seën.