Gedagte vir die dag | Saterdag 4 Junie 2022

 

Hartlik welkom. Hierdie week gaan ons saam op reis met ’n roadtrip vol G’s. Ons kyk na ’n Bybelverhaal wat ons leer van ’n man met die naam Naäman. Hy moes padlangs leer dat moeilike situasies oplossings het. Kom ons luister saam en luister na wat gebeur . . .

Sit jou veiligheidsgordel aan en kom geniet die reis.

Vandag se tema is: Padlangs geskeur en ons reis saam van vers 7-12: Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.”

8Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het ‘n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ‘n profeet in Israel is.” 9Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis. 10Elisa het ‘n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.”

11Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. 12Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?”

So het hy woedend daarvandaan teruggery.

Daar is soms dinge op hierdie lewenspad wat ons kwaad maak en dan vind ons dit moeilik om ons emosies in toom te hou. Kyk net hoe kwaad word die koning van Israel dat hy sommer sy klere uit frustrasie skeur. En dan Naäman wat self net so kwaad word omdat dit wat hy dink moet gebeur, nie gebeur nie. Leef jouself vir ’n oomblik in die situasie in … jy sien Naäman het verwag dat iets groots gaan gebeur en nou ontvang hy net die eenvoudige boodskap om homself te gaan was. Dit moes juis eers so in Naäman se lewe gebeur sodat hy eers nederig kan raak.  Hy was maar as hoof van die leër baie vol van homself.

Gesels nou saam oor die volgende vrae, of dink daaroor na. Julle kan na elke vraag die “pause” knoppie druk om tyd te gee sodat julle bietjie daaroor kan dink en daaroor kan gesels.

  • Wat maak jou so kwaad op die lewenspad dat dit jou skeur?
  • Hou jy daarvan om jou sin te kry?
  • Wat gebeur as jy nie jou sin kry nie?
  • Waarin moet jy/ons nederig gemaak word?

Kom ons bid saam. 

Here, help ons om nederig te bly. Help ons om nie teveel van onsself te dink nie. Amen

Doen nou die volgende. Hier is drie voorstelle:

  • Die eerste voorstel is vir families: Was mekaar se voete vandag. Wees vandag die meeste vir mekaar deur die minste vir jouself te wees.
  • Die tweede voorstel is vir tieners: Dink aan kere op skool waar dit van jou gevra word om meer van jouself te gee as dienskneg, eerder as om bedien te word. Skryf ’n paar moontlikhede neer hoe jy dit gaan doen.
  • Die derde voorstel is vir kinders: Dink na oor die dinge wat jou kwaad maak by die huis tussen jou broers, of susters. Hoe gaan jy vandag terugstaan sodat julle mekaar kan help? Doen dit!

 

Vrede en Seën.