Gedagte vir die dag | Woensdag 1 Junie 2022

 

Hartlik welkom.

Hierdie week gaan ons saam op reis met ’n roadtrip vol G’s. Ons kyk na ’n Bybelverhaal wat ons leer van ’n man met die naam Naäman. Hy moes padlangs leer dat moeilike situasies oplossings het. Kom ons luister padlangs saam en kyk wat gebeur…

Die lewenspad is somtyds vol slaggate en uitdagings. Soms reën dit so erg, dat ons nie eers die gate in die pad kan sien nie. Die pad waarop ons reis kan ook maar baie gevaarlik word, veral as ons ongeduldig raak en nie mooi die reëls wil navolg nie. Stop, ry stadiger, kyk rondom jou, versigtig, tel mense op, laai af, gaan iewers heen, papwiel, maak reg . . . Die lewe is ’n avontuur vol verskeie oppe en affe. Ons geestelike roetekaart kom ook met soortgelyke uitdagings langs die pad te staan. Gelukkig het God vir ons die  Bybel vol stories gegee om ons te help en te begelei as handleiding op hierdie lewenspad, veral as ons die pad byster raak of ’n papwiel kry.

Kom ons lees die week se verhaal van Naäman om sodoende saam op reis te gaan met ons roadtrip vol G’s.

2 Konings 5:1-14 (AFR83):

1Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was ‘n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here ‘n oorwinning aan Aram besorg. Die man was ‘n dapper soldaat, maar hy het melaats geword.

2Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ‘n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. 3Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.”

4Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit Israel gesê het.

5“Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, “ek stuur jou met ‘n brief na die koning van Israel toe.”

Hy het vertrek en drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere met hom saamgevat. 6Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.”

7Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.”

8Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het ‘n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ‘n profeet in Israel is.”

9Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis. 10Elisa het ‘n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.”

11Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. 12Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?”

So het hy woedend daarvandaan teruggery.

13Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?”

14Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van ‘n klein seuntjie en hy was weer rein.

https://www.bible.com/af/bible/6/2KI.5.AFR83