Gedagte vir die dag | Woensdag 11 Mei 2022

 

Met Jesus se opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees 50 dae daarna het die kerk soos ons dit vandag ken ontstaan. Dit is nou die tyd waarin ons onsself bevind. En in die volgende paar oggende se dagstukkies gaan ons die verhaal van die vroegste kerk in Handelinge volg. Terwyl jy in die volgende paar oggende oor dié gebeure nadink, vra jouself die volgende af: Wat beteken dit dat ek my geloof in die kerk bely?

Handelinge 2:43.  Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaar gekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou en hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet.

Wat ’n mens weer van vandag se teks opval is die spontanïteit en eenvoud waarmee gelowiges teenoor mekaar opgetree het. Waar het dit vandaan gekom? Mense het diep onder die indruk van die Here se opstanding gekom. Die realiteit dat God by ons is tydens ons saamwees as gelowiges, kom op ’n geheimenisvolle manier na ons toe deur die kerk. En dit wat tussen ons gebeur kring uit na buite en verander die wêreld. Na die hemelvaart het Jesus se persoonlike verskynings aan mense tot ’n einde gekom. Maar in die plek daarvan het hy ons iets kragtig gegee: Die Heilige Gees wat mense inspireer om op bepaalde maniere in hierdie wêreld te leef. Dink net weer vanoggend aan die geweldige implikasies hiervan. Is dit die kerk waarin ons vandag glo en waarvan jy ook deel is? Hoe praat die Here vandag met jou oor jou deelwees van hierdie kerk?

Gebed

Here, dankie vir die spontanïteit van u Gees wat vanoggend in my lewe inspreek en my kom leer, troos en inspireer. Op ’n manier het die begrip van kerk vir ons versteen en net nog ’n ding geraak wat ons saam met ’n klomp ander goed, te midde van ’n besig week moet kom doen. Here, kom maak in hierdie volgende tyd van Paasfees en Pinkster ons oë oop vir mekaar. Gee ons die moed om soos die vroeë gelowiges spontaan te reageer op die gedagtes en gevoelens wat by ons opkom en ons glo U vandag in ons bring. Ons glo Here. Ons glo in die kerk.