’n Nuwe fase in die jeugbediening

Deur: ds. Marius Breytenbach

Na die impak van die Covid-19-pandemie, asook die bedanking van ds. Hanno Ackerman, jeugleraar, is die jeugkommissie oorgehaal om nuwe lewe in die jeugbediening te blaas.  Die gemeente is geseën met ’n energieke en visionêre jeugkommissie, wat die bediening wil uitbou.

Die eerste stap was uiteraard om die jeugleraarspos te vul en ds. Marius Schoombie is uiteindelik uit 19 aansoeke op 3 Mei deur die kerkraad beroep.  Die beroep word vir twee weke aan die lidmate van Stellenberg-gemeente bekend gemaak, waarna ’n amptelike beroepingsbrief aan Marius gerig sal word.  Hy het dan weer twee weke geleentheid om op die beroep te reageer en ons vertrou dat indien die proses vlot verloop, hy teen 1 Julie 2022 in Stellenberg sal begin werk.

Marius is tans ’n voltydse leraar by die NG kerk Suidkus in Amanzimtoti.  Hy is 29 jaar oud en getroud met Pauline, ’n onderwyseres.  Hy het sy teologiese studie met lof aan die Universiteit van Pretoria geslaag, waarna hy sy gemeentejaar in die NG kerk Elarduspark voltooi het.

Marius se geloofsvolwassenheid en sy sterk akademiese fondasie het die kerkraad opgeval, asook sy vermoë om die teologie eenvoudig en prakties aan kinders en jongmense te verwoord.  Hy is baie musikaal en het ook ’n groot liefde vir sport en buitemuurse aktiwiteite.  Verder het hy die afgelope paar jaar ten spyte van groot uitdagings, sy huidige gemeente met groot sukses gelei.

Saam met die aanstelling van ’n nuwe leraar beoog ons ook heelwat nuwe en praktiese projekte waarby die jeugbediening betrokke gaan raak.  Kategesekampe en uitreike sal weer volstoom deel van die bediening se jaarlikse aktiwiteite wees.  In die lig van die uitbreiding van die jeugbediening se werksaamhede, hoop die kommissie ook om die jeugkantoor na die onbenutte lokale op die tweede vlak van die grootsaal te verskuif.  Die gedagte is om uiteindelik ’n jeugsentrum daar in te rig.  Die groter ruimte sal die voorbereiding en pakwerk vir kampe en uitreike heelwat vergemaklik.

Die leraarspan en die jeugkommissie is opgewonde om Marius Schoombie hopelik in die gemeente te verwelkom en ons glo dit sal ’n splinternuwe groeiseisoen vir die jeugbediening inlei.