Deon Maree is ’n man met baie ysters in die vuur en geen onbekende gesig in Stellenberg-gemeente nie. Hy en sy vrou, Rhoanné, saam met hom op die foto, is die afgelope twintig jaar lidmate van die gemeente en Deon het ook eiehandig die gemeentebasaar van 2019 georganiseer.
Deon en Rhoanné is ook al etlike jare pleegouers vir ’n familiekind en dié jongman is vanjaar ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit van Stellenbosch.
Sedert die begin van April het Deon die leisels as terreinbestuurder van die gemeente oorgeneem. “Die terrein kort ’n bietjie opknapping,” sê Deon, “en dit sal my aanvanklike fokus wees. Dis vir my belangrik dat die terrein netjies en mooi moet lyk. Dit skep ’n bepaalde beeld van die gemeente en ek is passievol oor die gemeente – seker maar omdat ek al so lank ’n lidmaat hier is en nog altyd tuis in die gemeente gevoel het. Ek was oor die jare heen by verskeie gemeenteaktiwiteite betrokke omdat ek daarvan hou om saam met mense te werk. Ek is ’n eredienswerker en veral die ouer mense lê my na aan die hart. In ons buurt probeer ek ook waar moontlik hulp verleen aan die ouer mense met herstelwerk en ander takies.
“Ek dien op die trusteeraad van die Fairtrees-aftreeoord en bestuur ook ’n mediasie-maatskappy wat mense help met die oplossing van ’n breë spektrum probleme in onder andere verhoudings, asook met likwidasies en siviele kwessies. Laasgenoemde is gewoonlik op groot ondernemings van toepassing. Dié konsultasiewerk geskied grootliks aanlyn, wat my in staat stel om daarmee voort te gaan al is ek voltyds by die kerk werksaam.”
Vir ontspanning geniet Deon die natuurlewe. “Ek is baie lief vir stap in die natuur en visvang, alhoewel ek baie lank laas tyd gehad het om te gaan visvang.”
Dit klink asof die woorde: Indien jy iets gedoen wil hê – gee dit vir ’n besige mens, ’n raak beskrywing van die nuwe spanlid op die kerkterrein is. Deon se kundigheid en vaardighede sal beslis ’n aanwins vir die gemeente wees.
Sterkte met die groot taak, Deon. Red.