Vandag is Saterdag 30 April en ons gaan die volgende sewe dae deur middel van ’n #StaanSaam-reeks reflekteer oor wat dit beteken om aan mekaar te behoort.
Vandag is ons tema: Vêr, maar kosbaar.
Psalm 42 begin: “Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, smag ek na U, o God.” Ons is die beelddraer van God. Ons sal altyd ’n heimwee en verlange na God hê, want ons is deel van Hom. Ons is sy skepsel en in ons harte sal daar altyd ’n onrus wees. Die Suid Afrikaanse digter van Bruggen het ook altyd ’n heimwee beleef met sy skrywe… “My hart verlang na die stilte van die weiwende veld, vêr van die stadsgeluide en klinkende klank van geld. Ek is moeg van die rustelose lewe van mens dat hy kom en gaan. Ek wil terug na vrye ruimtes waar ’n siel woon wat verstaan.”
Ons hele lewe sal onvervuld en leeg wees sonder God, maar soms soek ons sondige harte ’n God wat beter in ons wêreld sal pas. Ons wil self in beheer wees van ons lewens, die hef in ons eie hande hê. Ons dink ons kan ons probleme self soveel beter oplos. Sonder God en sonder insig val ons vas in ’n swaarmoedige eensaamheid. Gevoelens van angs en vrees veroorsaak spanning. Kragteloos en moeg ontvang ons sieledors na iets of iemand. Soms voel dit of God en kosbare mense vêr van ons is en leef. Luister na die wyse woorde van Augustinus wat sê: “Gee my mense wat verlang. Wat honger, wat dorsigtige pelgrims in die wildernis is. Wat smag na verlange van fonteine in hulle tuisland. Gee my sulke mense, want hulle sal verstaan wat ek bedoel. Verlange is die skat van die hart.”
Staan vandag saam en maak kontak met iemand na wie jy verlang. Vriende is kosbaar!