Gedagte vir die dag | Saterdag 23 April 2022

 

Dirkie Smit skryf oor die opstanding: Tussen optimisme en hoop lê daar ‘n hele wereld – al verwar ons dikwels die twee. Optimisme het te make met ons geaardhede, party mense is van nature meer so as ander. Hulle sien makliker die ligkant. Die silwer rant eerder as die donker wolk. Dinge kon veel erger wees, sê hulle. Die beste kom nog, wag net.

Te veel optimisme kan ons verblind, ons ligsinnig en oppervlakkig maak. Ons kan draers van goedkoop troos word. Natuurlik kan almal van ons leer om ‘n bietjie meer optimisties na die lewe te kyk en ons seëninge te tel. Depressie se angel is juis dat ons die vermoë verloor om die somme-van-die-lewe met oop oë te maak. Dat ons nie meer lig sien nie, net duister.

Maar met hoop het optimisme wienig in gemeen. Hoop is nie iets wat ons in ons het nie, dit kom van buite. Dit lê nie in ons geaardhede nie. Is ook nie ‘n uitvloeisel van die somme wat ons maak nie. Dit vloei nie uit ons anders-kyk of dink nie. Hoop word aan ons gegee. Ons ontvang dit. Dit kom na ons toe. Dis ‘n geskenk. Die bevrydende van Jesus se opstanding is dat hoop ons verras en ons oorbluf.

Daar is wel oomblikke van finaliteit wanneer positiewe denke nie verder help nie. Ons kom eenvoudig voor voor toe deure, klipgrafte en toe klipgrafte te staan. Dan sterf optimisme. Ek dink almal van ons was al daar, is dalk steeds daar. Dan verg dit ‘n gebeurtenis – iets nuuts, iemand wat die klip wegrol. Boodskappers wat sê ons hoef nie te vrees nie. Bevreesde vroue wat bevestig dit is waar. Dit kos ‘n vreemde tyding, wat in die hart van geen mens opkom nie, wat alle verstand te bowe gaan. ‘n Nuwe begin, soos lewe uit die dood

Mag vandag vir jou ‘n mooi en goeie dag wees