Die Here het opgestaan! Die Here het waarlik opgestaan!
Dit is Sondag 17 April 2022. Opstandingsondag en Paassondag. Wêreldwyd sing volgelinge van Jesus vandag: “Hoor jy die Paasfeesklokke? Hul lui van vroegdag af; hul jubel oor die wêreld: Die Heer is uit die graf! Hy, Christus, die oorwinnaar, is uit die donker uit! Die Heer, die sleuteldraer, sal ook my graf ontsluit.”
Ek deel vanoggend ’n paar kort gebede uit die Groot Gebedeboek rakende die aangrypende gebeurtenis wat vir ons die poort tot hierdie lewe én die ewige lewe is:
Uit die Oosters-Ortodokse kerk hoor ons die Paaslied:
“Hy wat die aarde teen die uitspansel gehang het, het nog eergister aan die kruis gehang. Hy wat die koning van engele is, het nog eergister ‘n doringkroon gedra. Hy wat die berge in wolke klee, het nog eergister die kleed van spot gedra.
Die Bruidegom wat sy kerkbruid gaan kom haal, was met spykers aan ‘n kruis genael. Die Wonderseun van ’n maagd, is met ’n spies deurboor. Ons wat gister en eergister u lyding beween het, juig vandag oor U stralende opstanding!
Gees van God, ons dank U dat U Christus se lewe uit die dood opgewek het. Ons wie se liggame nog sterwend is, ons smeek U, wek ons op tot nuwe lewe!
Here wat die dood oorwin het en tot in alle ewigheid lewe: Ons vier vandag die misterie van die ewige lewe, sowel as die majesteit van die opstanding.
Amen.