Dit is Saterdag na Goeie Vrydag!
Gedurende hierdie Groot Lydensweek verwys ons ook na vandag as die sogenaamde “Stil Saterdag.” Die dag na Jesus se kruisiging, waar daar net drie verlate kruise, op Golgota staan.
Jesus is dood. Hy is begrawe. Die aarde het Hom ingesluk in ’n graf wat geskenk is aan hierdie Seun van God wat Sy lewe vir ander gegee het. In Markus 15 lees ons alles oor Sy begrafnis. Vers 43: ‘Josef van Arimathea, ‘n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra”. Vers 45: Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, dat Jesus dood is, het hy die lyk vir Josef gegee. Josef het ‘n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in ‘n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het ‘n klip voor die ingang van die graf gerol. Vers 47: Maria Magdalena en Maria die moeder van Jesus het gestaan en kyk waar Hy neergelê word.”
‘n Mens kan jou net indink en inleef wat in die gemoedere van Maria Magdalena en Maria, die moeder van Jesus, moes plaasgevind het. Jesus is in die graf. Hulle hoop lê agter ’n graf wat met ‘n groot klip verseël is. Verward, hartseer, berouvol – dink hulle daaroor na dat hierdie mens, wat ook God was, hierdie kind wat klein was, maar ook groot geword het, hulle hoop in hul uiters benarde situasie was. Dit het intussen Saterdag geword, die Sabbatdag van die Jode. Jesus in die graf . . . en sy lyding was verby. In die Oosterse ortodokse tradisie, word die dag ook die Heilige Saterdag genoem. Op die sewende dag, wil hierdie benaming uitdruk: “die pyn is verby. Dit het stil geraak, die Seun is in die hande van die Vader.” Dit is egter nie net ‘n tyd vir berou nie, maar ook ‘n tyd vir verwagting. Vrydag was sleg, Saterdag was stil en donker, maar…. Sondagoggend lê voor!
Here, dankie dat U die groot prys betaal het vir elkeen van ons. Dankie dat U in die graf was, en self die dood ervaar het, sodat U vir ons die hoop kon skep dat ons dood nie die einde is nie, maar die begin van ‘n opwindende, nuwe lewe. Amen.