Vandag is Maandag, 11 April en ons is besig om oor die tafel en Jesus se tafelgesprekke met ander te reflekteer. Die tafel is ’n simbool van die stukkende wêreld waarin ons leef. Jesus se verraaier was saam met Hom aan tafel! Dit is mos dikwels die mense naaste aan ons wat ons die seerste maak. Maar die tafel is ook die simbool van hoop, van vergifnis en versoening.
Kom ons wandel vandag saam in Lukas 22:7-23
1 Die dag van die ongesuurde brood, waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek. 8 Jesus stuur toe vir Petrus en Johannes vooruit met die opdrag: “Gaan berei die paasmaaltyd vir ons voor dat ons dit kan eet.” 9 Hulle vra Hom: “Waar wil U hê moet ons dit voorberei?” 10 Toe antwoord Hy hulle: “Kyk, net soos julle die stad ingaan, sal ‘n man wat ‘n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom tot in die huis waar hy ingaan, 11 en sê vir die eienaar van die huis: ‘Ons Leermeester vra u: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’ 12 En hy sal julle ’n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle dit voorberei.” 13 Hulle het gegaan en dit gekry net soos Jesus vir hulle gesê het, en die paasmaaltyd voorberei. 14 Toe dit tyd was, het Jesus aan tafel gegaan en die apostels saam met Hom. 15 Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. 16 Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.” 17 Daarna neem Hy ‘n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan. 18 Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.” 19 Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” 20 Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word. 21 “Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel. 22 Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word!” 23 Toe begin hulle mekaar uitvra wie van hulle dit kon wees wat so iets sou doen.
Refleksie
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed
Stilgebed in refleksie op die teks