Gedagte vir die dag | Sondag 10 April 2022

Vandag is Sondag, 10 April en ons is besig om te oor die tafel en Jesus se tafelgesprekke met ander te reflekteer. Iemand het gesê: “Christene moet gasvryheid kies in ’n vyandige wêreld”. Hoe dink jy sal so ’n soort gasvryheid lyk? Dink aan wie die vreemdelinge in jou konteks of gemeenskap is, teenoor wie jy en ons saam meer gasvry kan leef? Een van die maniere om gasvryheid te betoon, is om juis saam met mense van wie ’n mens oor gebruike, opinies en oortuigings verskil, om die tafel te sit. ’n Mens kan wesenlik van mekaar verskil en tog saam wees. Ons hoef nie almal dieselfde te dink en te doen om tafelgemeenskap te deel nie.

Kom ons wandel vandag saam in Lukas 14:1-14.

1 Op ‘n sabbatdag toe Jesus na die huis van ‘n vooraanstaande Fariseër toe gegaan het om daar te eet, het hulle Hom fyn dopgehou. 2 Reg voor Hom was daar ‘n man wat aan water gely het. 3 Jesus praat toe met die wetgeleerdes en Fariseërs en vra: “Mag ‘n mens iemand op die sabbatdag gesond maak of nie?” 4 Maar hulle het stilgebly. Toe trek Jesus die sieke nader, maak hom gesond en laat hom gaan. 5 Daarna sê Hy vir hulle: “Sê nou ‘n seun of ‘n bees van een van julle val in ‘n put, sal hy hom nie dadelik uithaal nie, al is dit op ‘n sabbatdag?” 6 Hulle kon daar niks op antwoord nie. 7 Toe Jesus merk hoe hulle die voorste plekke aan tafel uitsoek, vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis: 8 “As iemand jou na ‘n bruilof toe uitnooi, moet jy nie sommer op die voorste plek gaan sit nie. Dit kan net wees dat die gasheer iemand uitgenooi het wat belangriker is as jy. 9 Dan sal hy wat julle albei uitgenooi het, na jou toe kom en sê: ‘Gee bietjie die plek af vir hierdie man.’ Jy sal dan tot jou skande die agterste plek moet gaan inneem. 10 Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: ‘Vriend, kom sit hier voor.’ Dan sal jy in die agting van al die gaste styg. 11 Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.” 12 Hy het ook vir die gasheer gesê: “As jy in die middag of in die aand ‘n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie. 13 Nee, as jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. 14 Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het.”

Refleksie:

Watter emosie het die teks by jou losgemaak?

  • Skep dit opsies?
  • Bring dit hoop?
  • Maak dit vry?
  • Daag dit jou uit?
  • Gee dit rigting?

Gebed:

Stilgebed in refleksie op die teks.