Vandag is Vrydag, 8 April en ons is besig om oor die tafel en Jesus se tafelgesprekke met ander te reflekteer. Maaltye het in die eerste eeu van die Christelike era mense se status duidelik afgebaken. Vrae soos wie die ereplekke by maaltye kry, watter gesprekspunte ter tafel is en wie saam met wie eet, was aan die orde van die dag. Maaltye was immers een van die belangrikste sigbare uitdrukkings van groepverbondenheid, broederskap en lojaliteit. Jesus se etes is direkte vensters op God se koninkryk. Hier aan tafel het Hy God se gratis goedheid uitgedeel, bestaande godsdienstige stereotipes oorboord gegooi, aangrypende Godstories vertel en skynheilighede ontmasker.
Kom ons wandel vandag saam in Lukas 19:1-10
1 Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2 Daar was ‘n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ‘n ryk man. 3 Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. 4 Hy hardloop toe vooruit en klim in ‘n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. 5 Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” 6 Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang. 7 Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by ‘n sondige man tuis!” 8 Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” 9 Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham. 10 Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”
Refleksie:
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed:
Stilgebed in refleksie op die teks.