Gedagte vir die dag | Woensdag 6 April 2022

Vandag is Woensdag, 6 April en ons gaan vir die volgende sewe dae meer oor die tafel en Jesus se tafelgesprekke met ander reflekteer. In sy boek “From Tablet to Table”, skryf Leonard Sweet: “Aan tafel het Jesus van gedagtes oor die lewe en die liefde oorgegaan na die werklikheid van lewe en liefhê. Hy het mense na die tafel genooi; trouens, Jesus se mees geliefde beeld vir die koninkryk van God is ’n banket waar almal om ’n tafel aansit. Nie almal het na hierdie maaltye gekom nie. Nie almal het sy uitnodiging aanvaar nie. Party het sy uitnodiging bespot. Party het saamgespan om hom dood te maak, op grond van andere wat hy genooi het. Maar of jy nou sy uitnodiging aanvaar, of van die hand wys – ’n fees sal beskikbaar wees. Dis nie ‘n geval dat jy moet kom nie, maar weet dat Jesus vir jou ’n plek hou, ingeval jy van plan verander.”
 
Kom ons wandel vandag saam in Lukas 14:15-24
 
15 Een van dié wat saam aan tafel was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem.” 16 Toe sê Jesus vir hom: “Daar was ‘n man wat ‘n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi het. 17 Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê: ‘Kom, die maaltyd staan klaar.’
 
18 Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak. Die eerste sê vir hom: ‘Ek het ‘n stuk grond gekoop en dit is noodsaaklik dat ek uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my asseblief.’ 19 ‘n Ander een sê: ‘Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my asseblief.’ 20 Nog ‘n ander een sê: ‘Ek is pas getroud, daarom kan ek nie kom nie.’
 
21 “Die slaaf kom toe terug en vertel dit alles aan sy eienaar. Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: ‘Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.’
 
22 Later kom die slaaf sê: ‘Meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.’ 23 Toe sê die man vir die slaaf: ‘Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word.
 
24 Dit verseker ek julle: Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie.”
 
 
Refleksie:
 
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
 
Skep dit opsies?
Bring dit hoop?
Maak dit vry?
Daag dit jou uit?
Gee dit rigting?
 
Gebed:
 
Stilgebed in refleksie op die teks.