Johannes 19:16 “Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.”
Dink vir ’n oomblik na oor wat Jesus se navolgers beleef het toe Hy gevange geneem is. Hulle sou in geloof kon redeneer dat God mos nooit so iets sou toelaat nie. Hulle het vasgehou aan die gedagte dat God binnekort met mag gaan optree en die mense wat hom gevange geneem het, sal laat boet. Dit moes ’n groot ontnugtering gewees het toe Pilatus hom aan die skare uitgelewer het om gekruisig te word. Dit kan mos nie wees nie!
So gebeur dit ook dat die lewe ons gereeld by plekke uitbring waar ons uitroep: “Maar dit kan mos nie wees nie!”. Ons het gehoop en geglo dat die Here se pad met ons, mense wat ons ken en hierdie wêreld anders sal loop en nou betwyfel ons skielik soveel dinge. Dis dan dat ons moet onthou – die verhaal eindig nie daar nie. Die Here het waarlik uit die dood opgestaan. Hoor wat sê Paulus hieroor in Fil. 3:10. “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, . . . in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood”. Dan sê hy verder: “Ek span my in die lewe in om dit alles myne te maak, omdat Christus my reeds Syne gemaak het – ek maak los van wat agter is en strek uit na wat kom . . . ons wat geestelik volwasse is moet hierdie gesindheid hê.
Mag jy beleef hoe hierdie realiteit intree en jou geloof vul waar die lewe jou telkens uitbring by dit-kan-mos-nie-wees-nie-ervaringe.
Gebed
O Here, heerser oor alles, selfs toe die aarde nog woes en vormloos was, was U die koning van die heelal en wanneer alles wat bestaan tot ’n einde kom, sal U nog steeds regeer. Ons denke is nie in staat om hierdie grootheid te begryp nie, maar die krag van U opstanding, wat elke dag in ons werk maak ons deel van die oorwinning wat U behaal het – dit spoor ons aan om elke stukkie lewe wat vir ons voorlê aan te gryp. Dankie dat ek vandag hierdie dag met hierdie wete kan ingaan en afsluit.
Amen.