Markus 14:32-34 32Hulle kom toe by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit julle hier terwyl Ek gaan bid.” 33Daarop neem Hy Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom. Toe pak ’n geweldige ontsteltenis en benoudheid Hom 34en Hy sê vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe! Bly hier en waak!”
Het jy al ooit ervaar dat die angs jou keel toedruk en jy voel asof jy nie asem kan haal nie? Dit voel asof iemand op jou borskas sit en jou uiters benoud laat. Ek het al baie gewonder of dit nie is hoekom Jesus daardie Dondagdagaand uit die stad weg geglip het om in die stilte van die Olyfberg, waar hy en sy dissipels dikwels bymekaar gekom het, te gaan sit nie. Hy was dalk net so benoud.
In Getsemane was Jesus werklik alleen en baie bang. En juis daarin lê die angs wat die sweet van Hom laat afdrup het en op die grond soos bloeddruppels geval het. Want onthou, Jesus wéét presies wat op Hom wag. Hy weet van die fisiese marteling wat wag, van die spykers wat hulle deur sy hande en voete gaan kap, van die dors en die spierkrampe wat gekruisigdes letterlik van hulle verstand af gedryf het. Hy weet dit alles. Maar vreemd soos dit klink, is dit nog die minste. Want wat Hom eintlik in die tuin van Getsemane benoud laat voel het, was die storm wat daar oor sy kop saampak. Die verskrikking wat die magte van die duisternis oor hom gaan losmaak, ’n storm waarin Hy stoksielalleen gaan staan. Hy het geweet dat binne dié duisternis gaan die Vader Hom nie help nie, want dis al hoe Hy vir ons sonde kan betaal.
Dis die duisternis wat sy keel toedruk en wat Hom die nag in Getsemane toevou. Die verstikkende duisternis van eeue se goddeloosheid en sonde. En onthou, Hy ly as ’n mens. Hy kies om nie sy goddelike mag te gebruik nie. En juis daarin lê dan ook die wonder van Getsemane. Jesus kon op enige oomblik “Nee!” sê. Nee, Ek gaan terug hemel toe waar Ek hoort, en laat hulle aan hulle lot oor. Hy kon dit doen, maar Hy het spesifiek gekies om dit nie te doen nie. Dis met ons in gedagte dat Hy tog die pad van die kruis gestap het.
GEBED
Hemelse Here, hoe kan ek ooit genoeg vir U dankie sê, vir die groot daad aan die kruis vir my. Vandag word ek maar net weer stil en sê ’n eenvoudige: “Dankie, my Heer!”