Vandag is Vrydag 18 Maart en ons reis saam in gebed oor gebed. Matt 6:9 “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word.”
Van al die bedes in die Onse Vader is die bede “Laat U Naam geheilig word” die moeilikste een om goed te verstaan. Ons ken die uitdrukking en sê dit maklik wanneer ons bid, maar wat beteken dit presies dat God se Naam geheilig word? Om die bede te verstaan, moet ons mooi kyk na die twee woorde “naam” en “heilig”. In die Bybel was ’n naam baie belangrik. Iemand se naam het in daardie tye gewoonlik vir mense iets van die persoon self gesê. So beteken Adam “mens”, en Eva “lewensmoeder”. Vir Israel was God se Naam, wat aan hulle bekend gemaak is, daarom ’n saak van groot erns. Die Naam het vir hulle gesê wie God is: die God wat hulle tegemoetgekom en hulle sy volk gemaak het. Wat meer was: hierdie Naam was op ’n manier al wat hulle van hierdie God gehad het. Vir Israel was God se Naam geassosieer met God self; as jy oor die Naam gepraat het, het jy oor God gepraat – Hy was sy Naam. As jy gevra het dat sy Naam geheilig word, het jy gevra dat Hy self – God, geheilig sou word.
Die tweede belangrike woord in die bede is die woord “heilig”. Die woord “heilig” beteken in Matteus 6 iets soos geëer word, erken word, gesien word vir wat dit in werklikheid is. Om daarom te bid dat God se Naam geheilig word, beteken om te vra dat God self geëer word, dat Hy gesien, erken en eerbiedig sal word vir die groot, magtige en wonderlike God wat Hy is. Mag die week van gebed jou inlei in hierdie lydenstyd, sodat jy die Onse Vader kan BID, GLO en LEEF.
Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word. Amen.
Gedeeltelik geneem uit: Soos Jesus ons leer bid het van Coenie Burger.