Gedagte vir die dag | Saterdag 5 Maart 2022

 

’n Gebed vir Lydingstyd deur Dirkie Smit

In hierdie dae verwonder ons ons oor die mens,

Jesus van Nasaret

Seun van die Mens,

Seun van God.

Ons verwonder ons oor die mens wat ons self is,

Jesus van Nasaret.

Wat is ons tog,

Dat U aan ons dink,

Wat is ons dat U U oor ons ontferm?

Dat U aan ons soveel heerlikheid gee, soveel goedheid, soveel eer,

Soveel grootsheid, soveel glans?

 

Ons verwonder ons oor die mens wat U is, Jesus, Seun van die mens.

Wie is U tog,

Wat kinders na U toe trek en hulle seën,

Wat siekes ophef en herstel,

Wat die bose weerstaan,

Wat envoudiges uitnooi tot gemeenskap met U?

 

Ons verwonder ons oor u passie vir ons, Jesus,

Seun van God –

Oor u liefde tot die einde toe,

Oor u lyding, u kruis, u sterwe-

Alles vir ons,

Alles uit liefde vir ons?

In hierdie dae verwonder ons ons oor onsself,

Jesus van Nasaret,

En oor U.

Ons aanskou onsself in U, in u lewe, in u lyding, in u liefde,

En ons verwonder ons.

 

Want wat is die mens tog, Here