Gedagte vir die dag | Vrydag 18 Februarrie 2022

Eksodus 3:7-8.  Die Here sê toe vir hom: “Jy kan seker wees dat Ek gesien het hoe swaar my volk in Egipte kry.  Ek het gehoor hoe hulle teen hulle slawedrywers om hulp roep.  Ek is baie bewus van hoe swaar hulle kry.  Daarom het Ek afgekom om hulle van die Egiptenaars te bevry en hulle weg te lei uit Egipte na hulle eie mooi, groot land.”

God se opdrag dat Moses die man is wat die Israeliete uit Egipte moes bevry, moes vir hom skokkende nuus gewees het.  Hy bied toe ’n lang lys verskonings aan waarom hy dit nie kan doen nie. God verseker Moses egter toe dat hy saam met hom sal gaan. Met God se hulp, deur verskillende plae, haal hy die farao oor om die volk te laat trek. Maar met die Israeliete uit Egipte begin Moses se probleme toe eers – die volk is met niks tevrede nie en kla omdat daar nie vir hulle water of kos in die woestyn is nie.  Elke keer onderhandel Moses met die Here en dan voorsien die Here in hulle behoeftes.

Onderwyl Moses op die Sinaiberg is, waar hy die kliptafels met die Tien Gebooie van God te ontvang, besluit die volk om vir hulle ’n goeie kalf te maak wat hulle as god aanbid. God se geduld met hulle raak op en Hy weier om verder saam met hulle te trek.

Weer tree Moses vir die ongehoorsame Israeliete in en weer luister God na Moses.  Uiteindelik swerf die Israeliete vir 40 jaar deur die woestyn voordat hulle by die Beloofde Land aankom. Gedurende hierdie tyd het Moses daarin geslaag om sy verhouding met God lewend te hou en dit was ook die rede waarom hy al die uitdagings kon hanteer.

Dit is ook die boodskap vir ons vir vandag. God help ons met ons uitdagings. Hy dra ons wanneer ons sleepvoet deur die lewe gaan. Hy gee ons krag om die uitdagings van die lewe te kan hanteer.

Gebed

Hemelse Vader, help my om soos Moses my verhouding met U lewendig te hou sodat ek my probleme met U hulp kan oorkom.

Amen

(Geneem uit: Jy is Myne van Nina Smit)