Deur: Ds. Marius Breytenbach
Die gebeure van die afgelope twee jaar het ons miskien by tye van mekaar geïsoleer, maar wat ons geloof betref, het dit juis die teenoorgestelde tot gevolg gehad. Ek het met soveel mense gesels wat vertel hoe die uitdagings van die pandemie hulle prakties nader aan God en mekaar gebring het. HIerdie ervaring het hulle tot die insig gelei het om onderskeid tussen die wesenlike sake in die lewe en die onbenullighede te tref. Wanneer Paulus oor die moeilike en swaarkrytye in sy lewe reflekteer, is dit ook dié denke wat telkens in sy briewe aan die eerste gemeentes resoneer. Dit bring ’n mens nader aan God om te besef dat ons te midde van alles wat in die lewe gebeur, nooit geskei kan word van die Here se genade nie. God se krag kom juis in ons tot werking wanneer ons swak is. Daarom sê Paulus in 2 Korintiërs 12:10: “. . . want as ek swak is, is ek sterk”.
Wat is vandag die belangrikste ding vir ons as gelowiges om te weet? Toe gelowiges in die 15de eeu hulle geloof moes verwoord, het hulle dit baie bewustelik met die volgende vraag en antwoord só gestel: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Daarop het hulle dan geantwoord: “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort (Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 1).
Aan wie behoort jy en wat staan jou nou te doen? Hoe is jou eie geloof in die Here die afgelope jare verdiep om tussen dit wat wesenlik en dit wat onbenullig is, te kan onderskei? Waartoe inspireer en motiveer dit jou aan die begin van 2022? Hierdie is die kwessies wat ons saam in die eerste kwartaal van 2022 gaan verken, wanneer ons Sondae tydens ons dienste gedeeltes uit Romeine gaan lees. Mag jy op ’n eenvoudige, maar ook diepsinnige, manier onder die indruk kom waar en aan wie jy behoort.