Deur: Ds. Marius Breytenbach
Ek onthou nog hoe ek in 2020 en 2021 op Sondae alleen kerk toe moes stap om ’n erediens in ’n leë kerkgebou aan te bied, terwyl ons lidmate weens inperkingsmaatreëls tuis na die diens gekyk het. Dit is so besonders om met die enkele Covid-19-maatreëls wat tans geld, weer op Sondae die vreugde van mense wat in die kerk en op die terrein saamkom te kan beleef én terselfdertyd steeds ‘n groot aantal kykers deur die internet bereik.
Vanaf 1 Januarie 2022 het ons oggenddienstye en formaat weer teruggeskuif na 09:00, soos voor die Covid-19-inperkingsmaatreëls. Die meditatiewe diens word in die kapel, die familiediens in die kleinsaal en die oggenddiens in die kerkgebou aangebied. Die jeugdiens bly onveranderd en word steeds saans om 18:00 in die kerkgebou aangebied, waarna die tieners in kleingroepe verdeel. Onthou ook dat die kleuterkerk weekliks, tydens skoolkwartale, vir kinders tussen die ouderdomme van 3 tot 5 jaar in die klaskamers van die grootsaal aangebied word. Ouers het die opsie om hulle kinders daar te laat terwyl hulle enige van die oggenddienste bywoon.
Ten spyte van ’n groot aantal mense wat die dienste nou fisies mag bywoon, sal ons voortgaan om op ’n permanente basis eredienste ook op die internet beskikbaar te stel. Ons het goeie navorsing daaroor gedoen en bevind dat ons aanlyn dienste wonderlike nuwe geleenthede skep waardeur ons die gemeente se visie en missie gestand kan doen deur oor grense heen uit te reik. Daar is ook nou ’n beduidende aantal mense wat na meer as een diens kyk en ook verkies om deur die loop van die week van die aanlyn fasiliteite gebruik te maak. Om by die aanlyn dienste uit te kom, kan jy die gemeente se webwerf (www.stellenberg.co.za) besoek en op die eredienste-blokkie op die voorblad klik, of jy kan Stellenberg-gemeente se YouTube-kanaal besoek. Jy kan ook na die eredienste op jou selfoon kyk deur ’n WhatsApp of Telegramboodskap na 081 045 2428 te stuur. Jy sal dan op Vrydae die skakel na die aanlyn diens op jou selfoon ontvang en kan dan Sondae om 09:00 na die direkte uitsending van die erediens op jou selfoon kyk. Jy kan ook die QR-kode met jou WhatsApp-kamera skandeer en self by die groep aansluit.
Ons nooi almal om na afloop van die dienste saam te kuier. Gratis tee en koffie word op die gras voor die kerk asook in die markplein bedien. Cappucino’s en heerlike eetgoed kan in die markplein gekoop word. Die gasvrouens wat elke Sondag die kafeteria beman oortref hulself weekliks met die keurige en smaaklike eetgoed wat hulle verskaf.
Middelmaart open die koffiewinkel Coffee and Crumbs op die terrein, wat aan lidmate nog ’n kuierruimte sal bied. Die Annibrand-juniorgroepe maak om 10:45 klaar en ouers kan die wagtyd gesellig by die kafeteria of koffiewinkel verwyl. Ons rig ’n hartlike uitnodiging aan alle lidmate om by ons Sondagvieringe aan te sluit – dit bring ons nader aan mekaar.