Deur: Zoné Janse van Rensburg
Midlynkruising is ’n term wat ’n mens deesdae, veral by laerskole, gereeld hoor. Maar wat is dit nou eintlik en hoekom is dit belangrik? Ons liggame word op drie vlakke, in twee helftes verdeel: ’n frontale vlak vir voor en agter; sagittale vlak vir links en regs en transverse vlak vir bo en onder. In die skoolopset sal ons meer spesifiek fokus op die denkbeeldige lyn wat ons liggame in ’n linker- en regterkant verdeel. Midlynkruising sal dus hier beteken dat jou regterhand na jou linkerkant kan oorkruis en ook aan die linkerkant van jou liggaam kan funksioneer, en andersom. Heelwat kinders sukkel egter om hul midlyn te kruis.
Midlynkruising ontwikkel vanuit ’n goed geïntegreerde, gekoördineerde liggaam waar die arms en bene apart én saam op ’n gladde en akkurate wyse kan saamwerk. Dit beteken die linker- en regterkant van die lyf kan saamwerk om verskeie take soos skryf, knip, plak, lyne trek, potlode skerpmaak en blokkies bou suksesvol te bemeester. Dit word bilaterale integrasie genoem.
Funksioneel beteken probleme met midlynkruising dat jou kind moontlik kan sukkel om ’n dominante hand te ontwikkel, aangesien sy/hy met die regterhand aan die regterkant van ’n bladsy sal werk en dan weer met die linkerhand aan die linkerkant van die bladsy. Dit sal uiteindelik ook veroorsaak dat die dominante hand se spiere nie sterk genoeg ontwikkel om aan die vereistes van ’n volle skooldag te voldoen nie. Ander implikasies vir midlynkruising-probleme sluit in dat jou kind kan sukkel om sy tafel se uitleg te beheer. Jou kind sal óf die stoel, óf die boek skuif om aanpassings te maak sodat die midlyn nie gekruis hoef te word nie. Dit het dan tot gevolg dat kinders meer spasie op hul werktafels gebruik.
Midlynkruising is die fondasie vir die ontwikkeling van ’n linkshandige of regshandige konsep.
Akwitieite wat midlynkruising kan bevorder (toepaslik op enige ouderdom):
- Trek ’n groot renbaan in die vorm van ’n sirkel of die syfer ag. Laat jou kind in die middel sit en gee hom/haar dan opdrag om met ’n karretjie om die baan te ry sonder om sy/haar lyfie te draai of die karretjie na ’n ander hand te verplaas. ’n Ouer kind kan ook die baan met ’n kryt naboots.
- Gebruik ’n lint of tou en laat jou kind dit met sy/haar dominante hand vashou. Vra die kind moet die lint na bo en onder, links en regs, kruis en dwars oor hul liggaam beweeg. Skakel musiek aan en laat hulle dans! ’n Ouer kind kan probeer om die bewegings ritmies op die maat van musiek uit te voer.
- Plaas ’n tennisbal in ’n ou sokkie, of sykous. Laat jou kind met sy/haar rug teen ’n muur staan en die bal dan van kant tot kant swaai sodat die bal agter teen die muur slaan.
- Handeklap-speletjie. Twee mense word benodig vir die speletjie. Die speletjie kom uit toeka se dae waar jy eers reguit vorentoe teen jou maat se hande en dan weer oorkruis hande klap. Kombineer die klaptegniek met ’n rympie, dan raak dit groot pret.
- Algemene posisionering van aktiwiteite kan midlynkruising aanmoedig. Maak seker jou kind is in die middel van die taak geposisioneer en gebruik slegs die dominante hand.
- Speel met ’n raket of ’n kolf. Laat jou kind die raket met beide hande, of slegs met sy/haar dominante hand vashou wanneer hy/sy die bal moet terugslaan. Vir die ouer kind kan mens ’n teiken plaas wat hul moet probeer tref.
- Speel met ’n ballon. Vra jou kind om die ballon met slegs een hand in die lug te hou.
- Toutrekspeletjies en soortgelyke proprioseptiewe stimulasie is wonderlik vir midlynkruising, asook om liggaamsbewustheid aan te moedig.
Vir meer inligting of enige ander navrae kan jy gerus vir Zoné Janse van Rensburg, ’n arbeidsterapeut by die Stellenberg Terapiesentrum, zonejvrensburg@gmail.com kontak.