Tiendemaandinsameling vul ons met dankbaarheid

Deur:  Ds. Marius Breytenbach

Met ds. Callie Visagie se uittrede is ek voortaan by die finansiële kommissie betrokke.  Ek is opreg dankbaar teenoor kundige lidmate wat oor die afgelope jare heen hulle vaardighede en kennis van finansiële bestuur met die gemeente gedeel het.  Die koronaviruspandemie het die afgelope twee jaar groot eise aan besighede, gesinne, asook kerke se finansies en vermoë tot finansiële oorlewing, gestel.

Ons het in 2020 onder leiding van die finansiële kommissie vinnig nuwe begrotings saamgestel en uitgawes drasties besnoei, omdat dit voor die hand liggend was dat ons gemeente-inkomste ook deur die pandemie geraak sou word.

In 2020-2021 het ons, in die lig van bogenoemde omstandighede, besluit om konserwatief te begroot met die oog op die tiendemaandinsameling.  Ons het begroot en toe gehoop om R930 000 met die spesiale insameling in te vorder en ons verwagtinge is oortref toe die insameling uiteindelik op R1 181 280, met ander woorde R271 820 bo die begrote bedrag, te staan gekom het.

Die onverwagse seën wat ons in 2020-2021 beleef het, het ons toe die moed gegee om vir die bedrag van R1 208 000 vir die 2021-2022-boekjaar se tiendemaandinsameling te begroot.  Lidmate se getrouheid en vrygewigheid het ons weereens oorbluf en ons kan met baie groot dankbaarheid bekend maak dat die tiendemaandinsameling weereens die begrote bedrag oorskry het.

Een van ons lidmate – ek sal haar identiteit beskerm – het teen einde Januarie 2022 ’n uitdaging aan ander afgetredenes gerig en gevra dat almal wie se beleggings die afgelope jaar goeie groei getoon het, ’n bedrag van R1 000 tot die tiendemaandinsameling moet bydra.  Dit lyk asof haar uitdaging vrugte afgewerp het, want die tiendemaandinsameling het toe binne die volgende week die begrote bedrag oorskry en staan tans op R1 297 116, ’n stewige R89 116 meer as die begrote bedrag.

Ons is opreg dankbaar teenoor alle lidmate vir elke bydrae.  Ons besef dat baie lidmate ook volhou met hulle bydraes ten spyte van die finansiële druk wat hulle beleef.  Ons onderneem om voort te bou op die gemeente se geskiedenis van verantwoordelike rentmeesterskap en verbind ons opnuut daartoe om alle uitgawes met omsigtigheid te benader.

Ek sluit af met die woorde in 2 Korinthiërs 9:10.  God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ’n ryk oes laat oplewer.