Karen Visagie, die gemeente se geleentheidskoördineerder, is saam met haar regterhand, Lindy van Wyk de Vries, baie opgewonde oor die nuwe jaar wat voorlê.
“Ons voel optimisties omdat dit lyk asof die koronaviruspandemie se kloue tog besig is om te verslap en met die verskuiwing van Covid-regulasies na vlak 1, is ons opgewonde om weer vir die tradisionele feesgeleenthede wat jaarliks aangebied word, te beplan,” vertel Karen en Lindy.
Eerste op die lys is die basaar wat op Vrydag 4 Maart om 15:00 afskop. Daar gaan ’n groot verskeidenheid kos en drinkgoed wees met hope pret vir die jongspan en selfs ’n bietjie vermaak vir die volwassenes.
Karen en Lindy nooi gemeentelede om saam te kom kuier en van die groot verskeidenheid etes soos kerrie-en-rys, hamburgers, worsbroodjies, roosterkoeke en lekker braaivleis met slaai wat voorgesit sal word, te geniet. Tradisionele basaarlekkernye soos pannekoek, poeding en spookasem sal ook aangebied word. Kinders sal bo en behalwe skyfskiet, kratte klim en ander speletjies, ook geleentheid kry om hulle hand te waag aan die versiering van hulle eie kolwyntjies.
“Ons het helpers nodig om van die basaar ’n sukses te maak. Kom help ons asseblief vir ’n uur of twee,” vra Lindy. “Indien jy bereid is om jou hulp aan te bied, kontak my asseblief by lindy@stellenberg.co.za.”
Die Vosburg-Karookuier word ook vir die eerste Vrydag in September beplan. “Dié boeregemeenskap kry soos almal weet die laaste paar jaar ontsettend swaar,” sê Karen. “Die hoë voorkoms van diefstal het ook tot gevolg dat boere nie meer hulle plase onbewaak kan laat nie. Gevolglik sal daar nie soveel Vosburgers wees wat hulp by dié kuiergeleentheid kan aanbied nie. Ons sal moet staatmaak op ons eie lidmate se hulp om van die geleentheid ’n sukses te maak, maar die hele Vosburg-komitee is daarvan oortuig dat die gemeente se ondersteuning aan die Vosburgers vir ons ’n prioriteit moet bly.”
Laaste, maar nie die minste nie, is natuurlik die jaarlikse feesmark. Alles dui daarop dat Stellenberg vanjaar weer ’n volwaardige feesmark sal kan aanbied. Dit beteken dat uitstalruimte aan ongeveer 500 uitstallers toegeken kan word. Planne rakende die terreinuitleg en oor die moontlikheid om weer ’n tent of twee in te span, word tans beraam.
“Ek wil graag vanjaar die kostrokke van verlede jaar met kosstalletjies vervang – amper iets soortgelyks aan die kosstalletjies by die bekende Route 44-mark. Sodoende het besoekers dan ’n groter keuse van kossoorte. Iemand wat sy hand aan die aanbieding van ’n kosstalletjie wil waag, kan my gerus by feesmark@stellenberg.co.za kontak”, nooi Karen.