Tien vrae aan Johan Visser

  1. Hoe gaan dit met die Vissers in Stellenberg?

Ek en Nicola het gedurende die ag maande wat ons verhuising na Stellenberg voorafgegaan het, gereeld gebid dat ons gesin ’n spreekwoordelike sagte landing in Stellenberg sal ontvang.  Ek kan vandag getuig dat ons deur baie genade en die hulp van baie mense toe werklik ’n “sagte landing” hier beleef het.  Ons is oral hartlik ontvang en hulp en ondersteuning is uit verskillende oorde vir ons aangebied.  Vir die kinders is die aanpassing in die nuwe skool maar ’n uitdaging.  My oudste dogtertjie, Ava-Jane, was byvoorbeeld in ’n meisieskool in Bloemfontein en moet nou aan ’n baie groter opset gewoond raak.  Ek is dankbaar dat sy deel kon raak van die atletiekspan.  Ek hoop dat elkeen van hulle mettertyd ’n ruimte sal vind waarbinne hulle tuis sal voel en die geleentheid sal hê om hul potensiaal te ontwikkel.

2. Wat was vir julle van die grootste aanpassings terug in die Kaap?

Alhoewel ek ’n oud-Kapenaar is, skud ’n mens nie sommer die Vrystaat se stof van jou lyf af nie.  Ons het in Bloemfontein in die Woodland Hills Wildlife Estate gewoon.  Dit is ’n groot natuurreservaat met ’n pragtige landskap waar die wilde diere in die reservaat ongehinderd tussen huise beweeg.  Daar woon ongeveer 4 500 mense in die reservaat en die gemeente waar ek werksaam was, is ook in die landgoed geleë.

Ons het dus ’n baie rustige leefstyl gelei.  Verkeer en stadsgeraas was glad nie deel van ons verwysingsraamwerk nie, maar om bokke rondom jou huis te sien, was ’n alledaagse verskynsel.  Dit is dus vir ons ’n groot aanpassing om weer in ’n stad te woon met al die woelinge wat aan die stadslewe gekoppel is.

 3. Hoe gaan dit met Nicola en haar soektog na werk?

Nicola het werk gekry by die NG Kerk Wes-Kaapland se kantoor in Bellville.  Ons was baie bekommerd oor werksgeleenthede vir haar en toe word ons weer geseën met die pos wat by die Diaconia-kantoor beskikbaar was.  Dit is ’n administratiewe pos, maar dit pas goed by Nicola se vorige werkservaring as maatskaplike werker, aangesien die Diaconia ook die sinodale kantoor se barmhartigheidsbediening verteenwoordig.  Sy het reeds ingeval en geniet die nuwe werksomgewing.

 4. Wat lyk sommer vanuit die staanspoor vir jou baie anders hier in Stellenberg in vergelyking met jou vorige gemeente?

Die Woodlands Hill Gemeenskapskerk bestaan al ongeveer 11 jaar en is binne die natuurreservaat waar ons gewoon het, geleë.  Dit is ’n baie kleiner en ook ’n baie jonger gemeente as Stellenberg.  Daar het ek sommer met my fiets huisbesoek gedoen en wanneer die kos in die veld min geraak het, het daar soms Sondagoggende ’n paar kameelperde om die kerk gedwaal.  Ek vermoed dit is nie iets wat ek hier by Stellenberg-gemeente op die terrein sal aantref nie! Maar op ’n meer ernstige noot – die bediening by Woodlands Hill Gemeenskapskerk was baie meer informeel en minder gestruktureerd as wat die gemeentebediening in Stellenberg is.  Daar was byvoorbeeld een oggenddiens en lidmate het ’n baie informele en ongestruktureerde aanslag verkies.

Daar is minder interessante dinge om in die Vrystaat te doen wat tot gevolg gehad het dat lidmate na die eredienste by mekaar se huise bymekaargekom het, of saam in die veld gaan stap het.  Alle aktiwiteite was gerig op families en gesinstyd was vir die meerderheid lidmate ook ’n groot prioriteit.

5. Wat gaan die fokusareas van jou bediening in Stellenberg-gemeente wees?

My fokus gaan beslis familiebediening wees met die klem op die vestiging van huisgeloof.  Ek glo my rol as leraar is nie om geloofsvorming by kinders te vestig nie, maar om elke ouer toe te rus om hulle eie kinders in die proses van geloofsvorming te begelei.  Huisgeloof en die teologie van die tafel is begrippe waarna ek baie gaan verwys.

6. Hoe lyk die bedieningsprogram wat jy graag wil implementeer?

My bedieningsprogram is op vier pilare geanker:

Venootskap – tussen ouers en die kerk.

Ouerskap – ouers moet toegerus word om hulle kinders op hulle geloofspad te begelei.

Mentorskap – ouers kan mekaar mentor en by mekaar leer.

Vriendskap – ons behoort nie net aan God nie, maar ook aan mekaar.

7. Hoe sal jy jouself kortliks beskryf?

Ek sê altyd ek is ’n onderontwikkelde introvert.  Niemand glo my nie, want ek is baie lief vir mense en een van my groot liefdes is juis om na mense se stories te luister, maar my batterye herlaai wanneer ek tyd het vir refleksie en meditatiewe nadenke.

Ek verkies ’n kontemplatiewe vorm van spiritualiteit waarbinne ek my gedagtegang op God kan fokus.  Dit is dus vir my belangrik om myself by tye af te sonder sodat ek kan stil word en geleentheid het tot nadenke.

8. Jy is baie musikaal en skryf self musiek. Wie is jou gunstelingmusikant?

Dit is vir my ’n baie moeilike vraag om te beantwoord, want ek het net te veel gunstelinge.  Ek gaan dit makliker maak en myself beperk tot plaaslike kunstenaars en dan moet ek sê Danie du Toit, van die Spoegwolfgroep.  Ek het as jeugleraar in die Paarl vir Danie leer ken en het groot bewondering vir sy ongelooflike kreatiwiteit, maar ook vir die feit dat hy in die eerste instansie ’n baie nederige mens is.

9. Hoe vergelyk Durbanville-omgewing se bergfietsroetes met die Vrystaat s’n?

Ek het nog nie geleentheid gehad om vreeslik baie roetes te verken nie, maar in Durbanville is daar natuurlik bulte wat ’n rare verskynsel in die Vrystaat is.    Die landskap verskil ook.  Hier word jy deur wingerde omring, terwyl die landskap in die Vrystaat meer uit grasvelde bestaan.

10. Hoe gaan julle gesinsaktiwiteite verander noudat julle in die Kaap woon?

Dit voel vir ons asof ons voor ’n skatkis vol ontdekkings te staan gekom het.  Die Wes-Kaap bied soveel diverse aktiwiteite en ons is opgewonde om dit alles te verken.  ’n Kabelkarrit tot bo-op Tafelberg is eerste op ons doenlysie, gevolg deur ’n besoek aan die Twee Oseane Akwarium.

Ons het ook baie ou vriende in die Kaap en is baie opgewonde om weer dié verhoudings te hervat.