’n Jaar gevul met hoop

Deur: Ds. Nelis Janse van Rensburg

Nelis Janse van Rensburg stuur die volgende boodskap namens die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland.

Die nuwe jaar het vol hoop aangebreek. Ons het immers drome oor geleenthede om lief te hê en liefgehê te word. Ons het drome van geleenthede om God se genadegawes te ontvang, om geluk en vrede te beleef, om sukses te behaal, om saam met ander sin en betekenis aan die lewe te gee.

Ons droom dalk van ’n tyd wanneer die koronavirus nie meer so ’n groot impak op ons almal sal hê nie. Daar is baie wat droom oor ekonomiese herstel, meer werksgeleenthede, of die kans om te kan studeer en bekwaam te word vir die lewe.  Maar ons hoop gaan oor meer as net die verwagting dat ons drome gaan waar word. Al ons drome gaan immers nie noodwendig realiseer nie. Vir gelowiges is die dieper hoop om gefokus te wees op die onafwendbaarheid van die koms van God se koninkryk. En die koms van die koninkryk word nie bepaal deur die getal mense se drome wat waar word nie. Die koninkryk van God kom selfs wanneer drome misluk. Dikwels juis te midde van die wroeginge van ons bestaan, breek God se lig deur, word sy heerlikheid aanskou, word sy versorging gevoel, word sy troos ’n werklikheid en sy koningskap sigbaar.

My gebed is dat jy op talle maniere die koms van God se koninkryk in hierdie jaar sal waarneem. Dat jy gereeld op die koninkryk sal afkom soos op ’n skat, onverwags. Dat jy sy koninkryk weer en weer in ontvangs sal neem wanneer sy heerskappy sigbaar en tasbaar word. Mag hierdie jaar vir jou vol tekens van hoop wees. Mag die hoop wat in jou leef jou telkens vorentoe neem. Mag jou drome en die hoop op die koms van die koninkryk van God, al meer één word.

Ons het met soveel hartseer gedurende die vakansie afskeid geneem van ds. Maryke van Niekerk van Calvinia. Baie drome het met haar dood aan skerwe gespat.  Ons treur oor haar heengaan, maar nie soos mense sonder hoop nie. Ons bid in hierdie tye vir haar man, seuntjie, ouers en almal wat vir haar lief was, vir troos en baie openbaringe van die koms van God se koninkryk daagliks in hulle lewe.

Mag 2022 vir jou en vir God se kerk ’n jaar vol koninkryksverrassings wees.

 

| Ds. Nelis Janse van Rensburg is moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk.