Teksvers: Filipense 1:9. “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.”
Dirkie Smit, ’n teoloog skryf dat saam met perspektief oor die lewe kom prioriteite. Hoe ons na mense en dinge kyk, bepaal wat vir ons gewig dra, aldan nie. Wat en wie ons sien en nie sien nie, het baie te doen met ons prioriteite en die waarde wat ons aan dinge toeken – of ons dit besef, of nie.
Hy verduidelik verder en sê, priotiteite dui letterlik op volgorde, rangorde, voor-in-die-ry, of ver-en-onopmerklik-agter-in-die-tou. Dit sê hy is juis waaroor alles gaan. Wie omloop en dinge vanuit ’n ander hoek of van ’n ander kant af bekyk, se volgorde word ook anders. Laaste word dan eerste. Prioriteit is nie dit waarna gekyk word nie, maar na wie gekyk word. In wie ons is en waar ons staan. Ek dink dis ook so in die lewe. Veral so aan die begin van ’n jaar waar ons die geleentheid ontvang om net effe anders te leer kyk. Wat laasjaar dalk so gewigtig in ons lewens was, so allesoorheersend, hoef nie noodwendig meer so te wees nie.
Ek dink dis ook Paulus se bedoeling wanneer hy bid dat ons liefde sal toeneem, sodat ons kan onderskei wat regtig saak maak. Dit is asof dit die liefde is wat perspektief bring, prioriteite verander en ons help om anders te kyk – na alles en almal. Mag ons hierdie uitnodiging ontvang en deelmaak van ons lewe.
Amen