Dit is belangrik dat ’n mens bewus is van jou denke, want dit is duidelik dat ons denke ’n groot deel van ons leefwêreld kan bepaal. Daarom wil ons in hierdie dagstukkies nadink oor hoe ons dink sodat ons kan nuut dink oor die lewe.
Die bekende skrywer Ralph Waldo Emerson skryf: “ ’n Mens is dit waaroor jy die hele dag lank dink”.
Hierdie stelling is waar, juis omdat ons besef dat ons denke ons tot ’n groot mate beheer. Baie neurologiese wetenskaplikes het al die invloed van ons bewussyn op die res van ons menswees probeer ontleed. Daar is een ding waaroor almal wel saamstem sonder ons denke kan ons nie beweeg nie.
Dit laat mens met die vraag: Hoe prioritiseer ’n mens jou denke? Waaroor dink ons en hoe beïnvloed dit jou leefwyse?
Marcus Aurelius het gesê: “Die gedagtes wat jy normaalweg dink, sal die karakter van jou denke bepaal, want die siel word deur gedagtes gekleur”
Kolossense 3:5-13
Die ou en die nuwe lewe. 5Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, 9en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. 11Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal. 12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.
Die Kolossense skrywer skryf oor waarop ons ons denke kan rig vir nuwe lewe. Ons kan of kies om mense te wees wat fokus op afguns, woede, haat en nyd, of ons kan mense wees wat ons denke fokus op goedsgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en meelewendheid.
Die vraag is dus waarop fokus ’n mens? Indien jou denke gedomineer word deur ’n sekere stroom gedagtes moet jy jouself sover kry om die roetine te breek en iets anders raak te sien sodat jy nuut kan dink.
Ons denke kleur tog ons siel in.
Kom ons bid saam:
Here dankie vir nog ‘n dag wat ons U genade en liefde kan sien en beleef in die wêreld. Here ons bid vir vrede en herstel in die plekke waar dit nodig is. Ons bid vir nuwe denke en nuwe maniere om U Koninkryk te sien in hierdie wêreld. Dankie dat U vir ons die moed en die vermoë gee om nuut te dink sodat ons nuut kan leef. Amen