Gedagte vir die dag | Sondag 16 Januarie 2022

Teks: Romeine 8:31: Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Ek dink die meeste van ons, is bewus van die bekendste Baptiste predikant, Charles Spurgeon in die 19de eeu. Hy het op ’n dag saam met ’n vriend in die Platteland gaan stap toe hulle ’n weerhaan met die woorde “God is liefde”, by ’n kerkkantoor gesien het.

Spurgeon het vir sy vriend gesê dat ’n weerhaan eintlik ’n onvanpaste simbool of medium vir so ’n boodskap is, omdat weerhane eintlik baie veranderlik is, terwyl God se liefde altyd dieselfde bly. Hy het eintlik bedoel dat dit nie heeltemal is wat God is nie.

Charles se vriend het vir hom gesê: “Miskien verstaan jy die woorde van die weerhaan net halfpad? Die weerhaan sê ook vir ons, na watter kant die weer ookal waai, God is liefde.” Spurgeon kon nie anders as om saam te stem nie, en het blykbaar die volgende Sondag die boodskap van God se trou, en sy teenwoordige liefde in sy preek gebruik.

God spreek ons vry, niks kan ons skei van die liefde van Jesus nie – nie honger, swaarkry of gevaar nie.  Daaroor praat Romeine baie duidelik.  Hierdie gedeelte het soveel gelowiges oor eeue heen vertroos.  Dit maak nie saak in watter krisisse ons die beleef, of watter bekommernisse ons het nie, dit sal ons nie skei van God wat in daardie omstandighede reeds teenwoordig is nie.  Hy sal ons miskien nie red van ’n siekte, of bose mag, of moeilike situasies verwyder nie, maar God is daar, al draai die wind na watter kant toe.

 

Gebed:

Here, dankie vir u teenwoordigheid, of dit nou in die ooste, weste, noorde of suide gewaai word, maar dat U daar is in die wind en vuur – altyd teenwoordig.

Amen