Gedagte vir die dag | Dinsdag 14 Desember 2021

 

2 Korintiërs 8:8-9. “Ek gee nie ’n opdrag nie, maar ek wys julle op die ywer van ander om daardeur die opregtheid van julle liefde te toets. Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur Sy armoede ryk kon word.”

Die kwessie waaroor Paulus in hierdie teks met ons praat is vrygewigheid. Die woord sê dit mooi – om uit vrye wil en nie uit dwang nie jou tyd, geld en bates met ander te deel. Die grond daarvan sê Paulus lê in die Here se vrygewigheid aan ons wat na ander toe oorspoel. Paulus se gedagte dat “die opregtheid van ons liefde getoets moet word” het my getref. Soveel dinge wat ons deesdae gedoen moet kry sien ons as ’n opdrag wat so gou moontlik afgehandel moet word. Probeer om vandag anders daarna te kyk. In die kleinste en geringste daad van diens is ons besig om die Here se genade te deel. Hierdie gedagte toets ons! Is ons net besig om werk af te handel en op ander te laai, of gebruik ons die geleentheid om iets mooi en goed te bou? Die teks daag my uit om nie net altyd in die probleme van take vas te kyk nie, maar elke taak as ’n geleentheid te sien waarmee ons kan probeer om probleme op te los en daardeur mense se lewens kan aanraak. Voor watter geleenthede bring die Here jou vandag waarin jy probleme kan help oplos?

Gebed

Here, help my om my lewe oop te maak om ander binne te laat wat hulp en bestand nodig het. Breek deur my trots, frustrasie en geïrriteerdheid wat my so dikwels in my lewe vergesel. Wanneer ek probleme moet hanteer, maak my bewus van die oorvloed genade wat ek van U ontvang en wat my in staat stel om enige uitdaging, of probleem te bowe te kom. Dankie dat dit take waarna ek opsien kom verander en ’n nuwe geleenthede wat ywer in my wakker maak, bied.

Amen