Jesaja 9:2. Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor die wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn.
Hierdie teks gaan oor die Here se pad met mense in ‘n politieke onseker tyd in Israel se geskiedenis. Daar was tekens van oorlog en die vooruitsig was vrees en onsekerheid. Jesaja word in hierdie tye geroep om die boodskap te bring dat God aan die volk rigting wil kom gee. Die kern van dié boodskap was dat God nie by die foute en sondes van die verlede stilstaan nie, maar deur gebeure plaaslik en op internasionale front mense deur insig sal hervorm. Hierdie boodskap het later weer met Jesus se geboorte by mense geresoneer. Dit bly vir ons moeilik om sin te maak van gebeure wat ons lewens kom verander en van ons vra om aan te pas. Tog, is dit ook waar ons redding lê. God is altyd ook besig om vanuit die donkerte insig te bring wat ons verander. Die lig van God is nie ‘n kop-ding nie. Dis ‘n doen-ding wat ons by nuwe plekke, mense en omstandighede uitbring. Dit mag wel vir ons voel of dit vir ons nag is as ‘n mens na die wêreld om jou kyk. Weet dan dat God se lig jou in hierdie tyd prakties help om verandering te hanteer en daarin nuwe geleenthede te realiseer.
Gebed
Wat is nou eintlik die werklikheid Here? Is dit die gereelde nuusbulletins? Waar lê die werklikheid? Diep in my weet ek natuurlik dat ek net die regte antwoord sal weet wanneer ek u gedagtes dink en na vandag se wêreld deur u oë kyk. Maak my daarom immuun teen die aanslag van die skynwerklikheid, en laat u waarheid my hart verlig.
Alleen in u lig sien ons die lig.