Gedagte vir die dag | Maandag 3 Januarie 2021

Filippense 4:6-7: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking, met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”

Dit is darem baie lekker om iemand naby aan jou te hê.  As ’n persoon of ’n vriend of geliefde vêr weg is, of aan die anderkant van die veldjie staan, dan kan ons nie so lekker met mekaar praat nie. Dan hoor ek nie vir hulle nie, en hulle nie vir my nie. As hulle egter by my kom staan, dan gebeur daar iets. Ek ervaar dat hulle naby my is, en die kommunikasie met hulle is soveel makliker en soveel lekkerder. Soveel te meer met God.

Gister het ons duidelik gehoor dat die Here naby ons is, en dat Hy Emmanuel is wat ons hand vat, en as die naby-God, saam met ons die nuwe jaar instap. Die volgende twee verse in Filippense 4 is aardskuddend en baie relevant vir vandag en vir ’n nuwe jaar in Suid-Afrika.  Ek wil byvoeg by wat Paulus hier sê, dit stadig stel, en enkele opmerkings maak.

“Die Here is naby, daarom moet julle oor niks besorg wees nie.” Sjoe dit voel amper asof dit onwerklik is! Kan dit regtig wees? Kan ons regtig by daardie punt kom wat ons kan sê dat on oor niks bekommerd sal wees nie. Is bekommernis nie maar die tweelingsuster van die lewe self nie? Ook in ons vooruitkyk na ’n nuwe jaar in ons land en in ons wêreld. Die troos hier is, die nabyheid van God bring vir ons daardie sekerheid!

Die teks gaan voort: “Maar maak in alles julle gebede en smeking met danksegging aan God bekend.” Hier is ons weer by die naby-wees. Omdat Hy naby my is, kan ek met Hom kommunikeer, met Hom praat op verskillende manière. Ook in my besorgdheid, my kommer en angs en in my daaglikse uitdagings! Die uitnodiging hier is, om in alles, ook ons begeertes aan Hom bekend te maak. Let WEL: AL ons  behoeftes. In die nuwe direkte vertaling staan dit: “Maak in alles julle versoeke aan Hom bekend.” Op watter wyse doen ons dit? Deur gebed, deur smeking en met danksegging.

En as ons dit gedoen het? As ons ons hart kon skoonmaak teenoor die God wat baie naby aan ons is.  Wat gebeur dan met ons? Dan, ontvang ons en ervaar ons die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan. Die vrede wat die Vredevors gebring het, die vrede, gerustheid, vreugde wat my God meebring. Vrede, wat oor ons harte en gedagtes die wag hou in Jesus Christus. Vrede beskerm ons, hou ons vas, pantser ons teen die aaklige gevolge van realiteite wat rondom ons mag afspeel. Gebruik hierdie twee verse baie in die komende  jaar!  Gryp dit met hernuwe ywer aan.

Gebed

Here, dankie dat ek oor niks besorg hoef te wees nie, maar dat ek met U kan praat. Dat ek deur gebed, en smeking by U aan die tafel kan sit, en dat ek dit met danksegging kan doen. Amen.