Gedagte vir die dag | Saterdag 1 Januarie 2022

Filippense 4:5: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.”

Ek wens julle ’n baie voorspoedige nuwe jaar toe! Ek hoop en vertrou dit was sommer ’n heerlike, feestelike tyd so met die nuwe jaar. My gedagtes gaan baie vêr terug na my kinderdae, en die opwinding wat in die oorgang van die ou jaar na die nuwe jaar gepaard gegaan het.

Noudat ek ouer geword het, en die hierdie jaar gaan aftree, dink ek ook aan my leeftyd in die bediening en hoe baie keer ek op die kansel gestaan het met oujaar. Ek dink aan hoe ons middernag die klokke laat lui het, en mekaar voorspoed toegewens het vir die nuwe jaar. Dit is altyd met opwinding en met verwagting gedoen. Vreugde was aan die orde van die dag, met Nuwejaarsfeeste, swem, vakansie, gemmerbier en waatlemoen!

Gister, op Oujaarsdag het ons gedink en gehoor hoe noodsaaklik dit is dat die vreugde van die Here ons lewenskwaliteit moet, en kan, bepaal. Vandag op Nuwejaar sluit ons daarby aan in hierdie vers wat Paulus dan direk aan die vreugde-emosie koppel. Hy sê duidelik vir ons, en dit staan so in die nuwe direkte Afrikaanse vertaling: “Julle moet julself verbly, verbly julle”, en dan daarmee saam vers 5: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word.”

Twee kante van die munt: eenkant vreugde, ongekende, Jesus gebaseerde vreugde, en die ander kant van die munt: vriendelikheid wat aan alle mense bekend word. Hoe absoluut noodsaaklik is dit nie in ons samelewing vandag nie!  Vriendelike gesigte wat al die gesigte wat hang, en wat vol kommer is, ast’ware entoesiasties met hul vreugde aansteek en ophelder?

Hierdie jaar kan ‘n jaar wees waar ons toelaat dat neerslagtigheid en donker wolke weer ons emosies en lewenskwaliteit oorheers, of dit kan ’n ligjaar wees van God se kinders wat met vriendelikheid en vreugde leef, en so ook die lig in hierdie jaar laat skyn.

Kom ons maak dit een van ons grootste, sigbaarste voornemens vir 2022: Ons wil ons vriendelikheid laat bekend word aan alle mense. Nie aangeplakte, valse vriendelikheid nie, maar vriendelikheid as vrug van die Gees! Vriendelikheid wat in staat is om mense om ons ook te kan verlig en hoop te kan gee vir die nuwe jaar. Ek wens julle ‘n vreugdevolle, vriendelike 2022 toe.

Gebed: Here, baie dankie dat U vir ons alle rede gee met vreugde om met vriendelikheid ook in hierdie nuwe jaar te laat lewe. Amen.