Filippense 4:4: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”
Die ou jaar het aangebreek! 2021 met al sy goed en sleg het uitgeloop! Ons kyk terug na ’n jaar waarin ons so baie beleef het, goed en minder goed. Maar ’n jaar wat ook gekenmerk was deur God se getrouheid in ons lewens, en hoe Hy tog, midde in ons uitdagings, elke dag vir ons opgedaag het, om ons te begelei, ons by te staan en lief te hê.
Voor ons is ’n nuwe jaar! Môre breek 2022 aan – ’n splinternuwe jaar met splinternuwe geleenthede.
In ons kuier in Filippense 4 hierdie week en het alreeds van Paulus gehoor oor die ongekende blydskap wat sy lewe in die tronk gevul het. Sy liefde vir ander mense, sy verlange na hulle, en waar hy ook, wanneer hy aan hulle dink, blydskap ervaar. Vandag se teks is seker een van die gewildste tekste in die Bybel. Ek onthou hoe ons as kinders gesing het: “Rejoice in the Lord, always, and again I say rejoice.” Dit is ’n inspirerende teksvers wat ons oproep tot een van die belangrikste voordele en erflatings van ons Christelike geloof. Ons is mense met vreugde! Ons het vreugde ontvang as ’n vrug van die Heilige Gees. . . vreugde wat gebaseer is op Jesus self! Ons ken almal die pragtige lied: “Jesus, Bron van al my vreugde.”
My gebed is dat hierdie absolute Jesus-gebaseerde, Gees-gedrewe blydskap jou lewe, en al jou dae wat voorlê, sal kenmerk. Dit help ons om die Oujaar, met al sy uitdagings, met groot vreugde te kan afsluit wetende dat die Heilige Gees werk in my om hierdie bevrydende vreugde ook in 2022 te kan beleef.
Mag dit ’n mooi jaar wees vir jou. . .van terugkyk met dankbaarheid, en vorentoe kyk met geloof en vreugde waar jy deurgans kan getuig dat die blydskap van Jesus Christus jou oorheersende emosie is.
Gebed: Here baie dankie vir hierdie jaar, 2021. Vir alles wat ons daarin kon beleef. Dankie dat U ook môre laat aanbreek, ‘n splinternuwe jaar waaroor ons in geloof en hoop en in liefde optimisties oor kan wees. Dankie dat U vandag hier is, maar dankie dat U ook môre hier sal wees, en tot in ewigheid, en dat U ons begelei op ons pad. Amen.