Gedagte vir die dag | Donderdag 30 Desember 2021

 

Filippense 4:1b: “Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon.”

Ons kuier hierdie week by Paulus in Filippense hoofstuk 4. ‘n Aangrypende getuienis van Jesus-gebaseerde geloof, hoop en liefde. Ons identifiseer daardeur met Paulus en word geïnspireer deur die wyse  hoe hy  hier met sy geliefde lidmate en vriende praat. Hierdie is waarskynlik een van die mooiste kwalifikasies van vriende, of van medegelowiges, wat jy kan kry.

Baie keer voel ons as predikante ook so oorweldig deur waardering, liefde en ander positiewe emosies teenoor mense wat ons lei en graag wil bedien. Maar dit is nie net predikante of die apostel Paulus wat so voel nie, ek glo dis ‘n algemene getuigskrif vir meeste gelowiges . . . hulle wat die genade en liefde van God ervaar.

Kom ons raak vandag hoorbaar  in waardering vir mekaar, as ons in die woorde van Paulus die volgende vir mekaar sê: “Ek het julle, my broers en susters, medegelowiges, gemeentelede, baie lief. My liefde word gedryf, nie deur wie ek is of wie julle is nie, maar deur die Heilige Gees wat hierdie God-gegewe emosie in ons binneste kom skep.  Gevestig, en gerig op Jesus Christus wat vir ons die toonbeeld van liefde was, en wat ons in staat stel om ook vir mekaar lief te kan hê. Paulus sê hy verlang na hulle, vanuit die tronk terwyl hy hom in die moeilikste omstandighede bevind. Juis daar het hy die behoefte, die verlange, om net by hulle te kan wees, om net uit te reik na hulle en die wonderlike ervaring van familie te mag beleef. Ek hoop dit is ook ons emosie wanneer ons aan medegelowiges dink! Dalk is hulle vêr van ons af, dalk baie naby maar onbereikbaar agv inperkings! Laat ons ook in die nuwe jaar 2022 vir mekaar boodskappe sal stuur: “Ek verlang na jou”

Dan die laaste deel van die teksvers: “Julle, my medegelowiges, my broers en susters, julle is my blydskap en my kroon. Blydskap in die Here is die algemene tema in hierdie pragtige boek of brief van Paulus. Hy sê hier, terwyl hy aan sy medegelowiges dink, dan is hy nie net oorweldig deur sy liefde vir hulle, en die feit dat hy na hulle verlang nie, maar dat hy kan getuig dat hulle sy blydskap en sy kroon is.

Gebed

Here, help ons ook om so mekaar lief te hê, na mekaar te kan verlang en daardeur U blydskap te kan ervaar. Amen.