Psalm 119:81. Ek smag na U redding, ek vertrou op U woord.
Dit is elke dag ’n besondere ervaring om vroeg in die oggend op die sonsopkoms te wag. Om te sien hoe die stikdonker al hoe ligter word en hoe die eerste strale van die son oor die horison kruip. Dit is opmerklik om te sien hoe vinnig die son oor die horison uitklim en dan is dit mos asof die spoed daarvan afneem as jy met jou dagtaak aangaan. Dit bly iewers in die hemelruim bo jou. Dié beeld laat my aan die teksgedeelte dink. Op tye sit ons op een plek stil en probeer stip na God kyk – ons wonder wanneer die strale van sy teenwoordigheid oor ons gaan val. Ons roep en vra daarvoor en beleef dan besondere geestelike oomblikke. Om op God te vertrou is om te weet dat selfs wanneer ons in die dag of nag sig van hom verloor, is hy steeds daar. Konstant soos die sonsopkoms en ondergang. Alhoewel jy hierdie dag wat vir jou voorlê beplan het, weet jy nie wat gaan gebeur nie. Vertrou op die Here ook in die tye waarin jy druk besig is met jou dagtake.
Gebed
Hemelse Vader, ek loof en dank U vir die vrede van die nag. Ek loof en dank U ook vir die lig van elke nuwe dag . . . en vir al u goedheid en trou dwars deur my lewe. Here, U het my in die verlede so oorvloedig geseën, laat my nou ook die hardheid van die hede aanvaar. Laat my glo dat u nie meer op my sal lê as wat ek kan dra nie. Ek bly glo dat U vir my sorg en dat U alle dinge vir u kinders ten goede laat meewerk.
AMEN.