Psalm 8
‘n Psalm van Dawid.
2Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, 5wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, 7U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: 8skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld,9die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!
GEDAGTE
Lina Spies verwoord dié Psalm as volg:
- O, Here God, u Naam is groot op aarde!
U hemelruim strek tot die verste einders:
Waar menseoë geen stippel meer gewaar,
daar straal en skyn nog steeds u majesteit.
- Na U, die God so hoog bo ons verhewe,
styg daar ‘n lied van dank, u Naam ter ere!
U lof uit kindermonde klink alom:
U haters swyg, U lasteraars verstom.
- Sien ek die maan, die sterre in hul bane,
weet ek, o Heer, hul dra u vingermerke:
hul skryf u Naam al glinst’rend in hul gang;
hoe klein voor U die mens, hoe sonder rang.
- Hoe is dit dan dat U tog na ons omsien,
die brose mens omstraal met u nabyheid?
U maak ons sterk, U kroon ons met u glans:
Ons hoort by U en word deur U omskans.
- U stel ons aan oor al u werke, Here,
oor als wat vry en selfs verborge lewe:
die voëls wat in die ruim hoog oor ons sweef,
die vis wat speel in dieptes van die see.
- O, Here God, u Naam is groot op aarde!
U hemelruim strek tot die verste einders:
Waar menseoë geen stippel meer gewaar,
daar straal en skyn nog steeds u majesteit!
GEBED
Abba, Vader, Skepper van die heelal, ons aanbid U, U is heilig, Heer.
Jesus, Christus, Lam van God, Verlosser, ons aanbid U, U is heilig, Heer.
Gees van Waarheid, Trooster en ons Leidsman, ons aanbid U, U is heilig, Heer.
Amen