Gedagte vir die dag | Saterdag 8 Januarie 2022

 

 

Filippense 2:12-13.  12My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.

Die mense van ons tyd wil hulle godsdiens eenvoudig hê.  Hulle soek kort antwoorde op hulle geloofsvrae en hulle soek kitsoplossings vir hulle geestelike probleme. Dis eintlik effens vreemd: dieselfde postmoderne mens wat nou weet dat die hele wêreld baie ingewikkelder is as wat die mensdom in die voorafgaande eeue gedink het, stroom in groot getalle na godsdienstige groepe toe wat oorvereenvoudigde antwoorde op geloofsvrae en simplistiese oplossings vir geestelike probleme aanbied! Mense soek maklike, eenvoudige godsdiens. Dit moenie te veel van hulle vra nie.

Die Bybel roep egter God se kinders op tot ’n radikale anderste manier van lewe. Om juis nie tevrede te wees met gemaklike kort antwoorde en ’n eenvoudige gemaklike lewe nie.

Bekering is nie iets oppervlakkigs wat net so bolangs met jou gebeur nie. As jy jou in die Bybelse sin van die woord bekeer, beteken dit dat jy vir sekere dinge doodgaan – vir die sonde, en dat jy heeltemal van nuuts af vir ander dinge begin lewe – vir die Here se wil.

Nee. Bekering is radikale, diepgaande, hartgrondige verandering van jou hele manier van dink, van jou hele benadering van die lewe, van die trant van jou gesprekke van jou gedrag, jou gewoontes, jou alledaagse doen en late. Daarom roep Paulus die gemeente van Filippense op om werklik anders en gehoorsaam te leef. Dit is ook ’n oproep vir ons dat ons nie gelyk sal word aan hierdie wêreld nie, maar juis sal leef soos kinders van die Here. Dit vra van ons om gehoorsaam te wees en te leef as verloste mense.

GEBED

Hemelse God en Vader help my asseblief om gehoorsaam aan U te leef.

Amen